Die Britse publiek wil hê prins William en hertogin Catherine moet hul baba Diana noem.

Die koninklike egpaar, wat hul eerste kind in Julie verwag, moet hul kind na die prins se oorlede ma, Diana, prinses van Wallis, noem as dit ’n meisie is, volgens ’n nuwe meningspeiling.

In ’n opname deur Baby TV was Diana die gewildste meisienaam vir die koninklike baba. Altesaam 27,5 persent van die respondente het vir die naam gestem.

Net minder as ’n vyfde (18 persent) van die 1 500 ouers wat ondervra is, het gevoel William (30) en Catherine (31) moet hul baba na sy ouma, koningin Elizabeth, noem. Hulle was egter minder gretig dat die baba na haar ma moet heet, want die naam Catherine het maar net vier persent van die stemme gekry.

Intussen is Philip die gewildste seunsnaam. Met ’n kwart van die stemme het dit William en Charles uitgestof.

Die naamkenner Laura Wattenberg sê: “Die koninklike familie is die toppunt van tradisionele benaming, maar Will en Kate is steeds hedendaagse ouers. Hul keuse kan ’n balanseertoertjie tussen familie en mode wees. Selfs ouers wat tradisionele name verkies, gee deesdae ook aandag aan styl.”

William se ma, prinses Diana, is in 1997 in ’n motorongeluk oorlede.

Die gewildste meisiename vir die koninklike baba is:

Diana – 27,52 persent

Elizabeth – 18,35 persent

Catherine – 3,67 persent

Ander – 50,46 persent

Die gewildste seunsname vir die koninklike baba is:

Philip – 24,77 persent

William – 7,34 persent

Charles – 7,34 persent

Ander – 60,55 persent