Jo Cox, ’n lid van die Britse parlement, het Donderdagmiddag beswyk aan wonde wat sy tydens ’n aanval vroeër vandag opgedoen het. Die 41-jarige Jo is geskiet en gesteek in ’n skokkende voorval in Birstall. ’n 77-jarige man is gering beseer tydens die voorval terwyl ’n 52-jarige man deur die polisie in hegtenis geneem is.

Clarke Rothwell, kafee-eienaar, het die aanval gesien. Hy het glo “harde knalgeluide wat soos ’n ballon wat bars” gehoor.

Toe hy rondkyk het hy ’n man met ’n bofbalpet en ’n outydse vuurwapen in sy hand gesien.

“Hy het die dame een keer geskiet en toe skiet hy haar weer. Hy’t geval, oor haar geleun en haar weer in haar gesig geskiet.

“Iemand het hom probeer gryp, met hom gestoei en toe swaai hy ’n mes rond, soos ’n jagmes. Hy’t verskeie kere na haar gesteek,” het Clarke gesê.

“Mense het gegil en weggehardloop.”

Nog ’n kafee-eienaar, Hithem Ben Abdallah het gesê Jo is bloeiend op die sypaadjie laat lê.

“Daar was ’n ou wat baie dapper was en ’n ander man met ’n bofbalpet wat hy probeer onder beheer bring het. Toe ruk die man met die bofbalpet skielik ’n vuurwapen uit sy sak.”

Hithem het ook genoem dat die aanvaller haar geskop het terwyl sy gelê het.

Jo, die ma van twee kinders, was ’n lid van die Britse opposisieparty, die Arbeidersparty.

Sy was ook bekend vir haar werk met die bekende Britse liefdadigheidsorganisasie, Oxfam, en die Freedom Fund wat teen slawerny gekant is. Jo is verlede jaar tot lid van die parlement verkies vir Batley and Spen – waar sy gebore en grootgeword het.

Brendan Cox, Jo se man, het laat Donderdagmiddag ’n verklaring uitgereik: “Jo het in ’n beter wêreld geglo en elke dag daarvoor baklei.”

Hy het ook gesê Jo sou geen berou oor enigiets in haar lewe hê nie. “Sy het elke dag ten volle geleef.”

Die onderleier van die party, Tom Watson, het gesê: “Dit is moeilik om te begryp hoe ’n deernisvolle, beginselvaste en pragtige mens so wreed van ons weggeneem kon word. Nog meer vernietigend omdat sy gedoen het wat sy die beste gedoen het – haar kiesafdeling gedien het.

Laura Kuenssberg, die politieke redakteur van BBC, het Jo as ’n ster bestempel.

“Sy was dapper, snaaks, en slim.”

“Maar belangriker: sy was ’n ma, ’n vrou en ’n dogter wat maklik begin glimlag het wanneer sy oor haar familie gepraat het. Dit is wat ek sal onthou.”

Buiten die groot verlies vir haar gesin, haar kiesafdeling en haar party, het Jo se dood nog verreikender gevolge. Die amptelike veldtog rondom volgende week se verkiesing oor Brexit (Die Verenigde Koninkryk se verdere deelname aan die Europese Unie al dan nie) is vandag vir eers gestaak. Die motief vir die aanval is nog onbekend.

Die reaksie op Jo Cox se dood op Twitter

Bronne: wsj.com, skynews.com, bbc.co.uk