Spitfire-vegvliegtuie, ’n foto van die ikoon teen die legendariese wit kranse van Dover en ’n koek – dis hoe dame Vera Lynne se 100ste verjaardag Maandag gevier is. O ja, en dan is daar nog die besonderse rekord wat sy so pas opgestel het: sy is amptelik die oudste mens ooit wat ’n nuwe album uitreik . . .

Dit is uitgereik ter viering van Vera se 93 jaar – ja, 93 jaar! – in die vermaaklikheidsbedryf. Die nuwe album, Vera Lynn 100, is op 17 Maart 2017 uitgereik.
Boonop het sy skaars agt jaar gelede laas bo-aan die treffersparade beland. Dit is nog ’n rekord op haar kerfstok deurdat sy die oudste mens in die Verenigde Koninkryk is wat daardie gesogte posisie kon beklee, boonop met ’n heruitreiking van haar goue treffers. Sy het dié prestasie beskryf as iets wonderlik vir haar, want “eintlik het ek maar net my werk as ’n sangeres gedoen.”

Dame Vera Lynn is op 20 Maart 1917 tydens die Eerste Wêreldoorlog in East Ham, Essex, gebore.

Maar waaraan skryf dié onblusbare gees, wat veral tydens die Tweede Wêreldoorlog harte wyd en syd verower het, haar rype ouderdom toe?

“Wees so aktief as wat jou vermoëns jou toelaat.

“Behou jou belangstelling, lees boeke, kyk televisie en probeer in kontak bly met die lewe en wat mense aanvang, sien en geniet. “Ek probeer ook om my nie te veel te kommer oor enigiets nie, en geniet elke dag soos wat dit kom.” Tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy in Egipte, Indië en Birma getoer waar sy in die buitelug konserte vir soldate gehou het. Die liedjies uit hierdie tyd wat veral met haar geassosieer word, is "We'll Meet Again", "The White Cliffs of Dover", "A Nightingale Sang in Berkeley Square" en "There'll Always Be an England". Tot vandag toe beskryf sy die dienspligtiges wat Brittanje gered het as “die seuns”.

“Daar is altyd iets om oor bekommerd te wees, maar die geheim is om bo dit uit te styg en te doen wat ons kan om die wêreld ’n beter plek te maak.”
Ongelooflik dat die vrou wat die oorlog in sy volle wreedheid ervaar het, steeds haar positiewe gesindheid bly behou. Sy skryf dit toe aan die gees van patriotisme en welwillendheid wat mense deur daardie donker jare gedra het. Dame Vera sê ook dat die opofferinge wat deur soveel tydens die oorlog gemaak is, haar gehelp het om net sterker anderkant uit te kom. “Dit was my eer en besonderse voorreg om die soldate se dag op te kikker terwyl hulle hul lewens gewaag het vir almal wat tuis gebly het.”

Ná die oorlog het sy gewild gebly en opgetree op TV en oor die radio in die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. Van die treffers wat sy ná die oorlog uitgereik het, was "Auf Wiederseh'n Sweetheart" en haar no. 1-treffer in die VK "My Son, My Son".

Sy wy baie tyd en energie aan liefdadigheidswerk in verband met oudstryders, gestremde kinders en borskanker.

Oudsoldate van die Tweede Wêreldoorlog bejeën haar vandag nog met groot liefde en in 2000 is sy aangewys as die Brit wat die gees van die 20ste eeu die beste vergestalt het.

Die "troepies se hartedief":

Sy het ook dié liedjie, wat ook deur die Duitse sangeres, Marlene Dietrich, gesing word, vertolk.