Britney Spears het na bewering sowat R320 000 aan haar honde bestee.

Die 32-jarige sangeres word dikwels in die Los Angeles-buurt Thousand Oaks gesien saam met haar twee honde en haar seuns, Jaden en Sean, by haar eksman, Kevin Federline.

Volgens TMZ was Britney verlede jaar so dol oor haar brakke dat sy meer as R136 000 aan hulle bestee het. Sy het blykbaar in Januarie verlede jaar byna R60 000 vir ’n wit Malteser opgedok en in Julie meer as R86 000 vir ’n yorkshireterriër.

Die blonde ster gaan ook glo op inkopietogte om die honde te trakteer. Sy het glo meer as R16 600 net aan klere bestee, asook amper R55 000 aan oppassers en ander uitgawes, soos kos.

Altesaam het Britney glo amper R330 000 in haar skattige troeteldiere belê.

Britney het ook die miniatuur-yorkshireterriër Hannah gekoop, wat sy dikwels in haar tyd as ’n beoordelaar op The X Factor US in 2012 na die stel gebring het. Die opreg geteelde hond het talle gesondheidsprobleme en is na bewering dikwels hospitaal toe gebring.

“(Britney) het op Hannah afgekom waar sy lusteloos met oë half toe was, nie op mense se stem gereageer het nie, nie geëet het nie en gesukkel het om asem te haal,” het ’n bron aan RadarOnline vertel.

Hannah het in Januarie verlede jaar die veearts besoek met vog op haar longe. Britney het glo byna R19 000 by die winkel Barkworks in Thousand Oaks vir Hannah betaal. Gelukkig is die brak nou gesonder en het verlede maand haar tweede verjaardag gevier.

Hopelik beur Britney se hondekinders haar op; sy het verlede week met haar kêrel, David Lucado, uitgemaak. Sy het blykbaar die verhouding beëindig nadat sy beeldmateriaal gesien het van David saam met ’n ander vrou.

© Cover Media