Britney Spears erken sy moet hard werk om viets te bly noudat sy in haar 30’s is en al hou sy dop wat sy eet, swig sy soms voor gebakte lekkernye en pasta.

Die Scream & Shout-sangeres het veranderinge aan haar lyf en metabolisme opgemerk sedert sy haar vierde dekade van haar lewe binnegegaan het en moet nou nog harder oefen om haar agterstewe se beroemde fermheid te hou.

Oor die veranderings aan haar agterstewe, sê Britney in die nuwe uitgawe van die tydskrif Shape: “Ek hou daarvan en verpes dit dan weer. Ek is nou in my 30’s en moet harder werk om dit te onderhou.”

Die 31-jarige popsuperster, wat op die publikasie se voorblad pryk, sê haar gunstelingmanier van slank bly, is joga elke week.

Britney gee ook die Nutrisystem-gewigsverliesprogram van voedsame maaltye wat jy maklik kan berei, krediet daarvoor dat sy haar gewig in toom hou, maar sy erken dit is soms swaar om nie aan haar gunsteling-koolhidraatryke kos weg te lê nie.

Die blonde skoonheid wat twee seuns uit haar huwelik met Kevin Federline het, Sean Preston (7) en Jayden James (6), erken: “Dis moeilik om te verslank, want my gunstelinge is spaghetti, bruintjies en koekies met sjokoladebrokkies.”