Die sangeres is ses jaar gelede tydens ’n hofsaak onder haar pa se sorg geplaas.

Maar dit gaan blykbaar baie beter met die ma van twee; sy meen sy kan nou op haar eie regkom.

“Britney verstaan nie hoekom die toesigtydperk so lank duur nie,” het ’n bron aan Radar Online gesê.

“Sy is moeg van al die lyfwagte. En sy wil onder haar pa se duim uit wees.”

’n Ander rede waarom sy glo graag wil hê haar pa, Jamie, se toesig oor haar moet eindig, is sodat sy kan trou met haar kêrel, David Lucado.

“Haar verhouding met David is sterker as ooit,” het die bron bygevoeg. “Sy wil hê die toesig moet eindig sodat sy met hom kan trou.”

Maar ten spyte van Britney se sekerheid dat sy onafhanklik kan wees, voeg die bron by sy gaan nie gou van haar pa bevry wees nie.

“Al gaan dit baie goed met Britney, is daar geen planne om die toesig te eindig nie,” het die bron gesê. “Haar dokters meen sy is net nog nie gereed om op haar eie te wees nie.”

Daar is vroeër vanjaar berig dat Britney reeds trouplanne maak by Elvis Presley se Graceland in Memphis, Tennessee. Sy en David is al ’n jaar saam.

Britney is reeds twee keer getroud. Haar eerste troue was met haar vriend Jason Alexander, maar die huwelik is 55 uur later nietig verklaar.

Haar tweede troue was met die danser Kevin Federline, met wie sy twee kinders het, Sean Preston (8) en Jayden James (7).

© Cover Media