Britney Spears se vorige verloofde was ’n inspirasie vir haar nuwe album.

Britney (31) het haar verlowing met Jason Trawick in Januarie vanjaar verbreek. Sy sê om daaroor te skryf het haar dit help verwerk. Britney het pas ’n kontrak van twee jaar met die Planet Hollywood Hotel & Casino in Las Vegas gesluit om met liedjies uit haar nuwe album, Piece of Me, daar op te tree.

Sy het Dinsdag in New York aan Good Morning America gesê: “Tydens die maak van hierdie album het ek en Jason ons verlowing verbreek. Ek het baie geskryf oor wat ek beleef het. Dis aaklig. Om uit te maak is aaklig, man.”

Britney en Jason het in Desember 2011 verloof geraak nadat hulle twee jaar uitgegaan het. Sedert hul verlowing beëindig is, gaan Britney met Dave Lucado uit.

Die sangeres van die treffer Scream & Shout het vlugtig verwys na haar ou kêrel, Justin Timberlake. Hulle het in 2002 uitgemaak nadat hulle drie jaar uitgegaan het. Die twee het al in 1992 in The Mickey Mouse Club vir mekaar ogies gemaak.

Gevra hoe oud sy was met haar eerste soen, het sy gesê: “Miskien 13. Dit was Justin.”

Britney se nuwe album word op 3 Desember uitgereik.