Die Pretty Girls-sangeres het verlede Oktober met Charlie Ebersol begin uitgaan. Maar nadat sy alle foto’s van die 32-jarige van haar Instagram-rekening verwyder het, is berig die sangeres het die verhouding beëindig.

Terwyl Britney nog nie die nuus bevestig het nie, het sy enige hartseer wat sy dalk ervaar, verberg deur ’n foto van haar te deel waarop sy gelukkig lyk. Dit is Sondag in die Amerikaanse deelstaat Louisiana geneem waar sy grootgeword het.

“So lekker om by die huis te wees! Niks soos Louisiana-ouens nie,” het sy geskryf by die foto waarop sy met ’n breë glimlag langs ’n vriend op ’n snelboot staan. Die Toxic-sangeres het ’n geel bikinitop en kortbroek aan, haar hare is onder ’n basketbal ingedruk en sy het ’n donkerbril op.

Terwyl daar geen teken van Charlie op haar Instagram-rekening is nie, is daar steeds foto’s van hom op die 33-jarige se Twitter-rekening.

Die twee is laas in Mei by die Billboard Music Awards in Las Vegas saam afgeneem.

Omstreeks dieselfde tyd is beweer die ster, wat twee keer tevore getroud was, is reg om ’n derde keer af te haak – dié keer met Charlie.

“Hulle het daaroor gepraat om af te haak tydens haar konsertreeks in Las Vegas wat veronderstel was om in Desember vanjaar te eindig. Maar noudat haar vertonings tot in 2017 sal voortgaan, het hulle besluit dit maak sin om tydens haar blaaskans van twee maande hierdie somer te trou,” het ’n bron aan die Britse tydskrif Closer vertel.

“Almal stem saam, Charlie is die beste ding wat met Britney gebeur het. Hy het haar nog nie amptelik die jawoord gevra nie, maar hulle praat gedurig oor trouplanne en Britney noem haarself selfs ‘mev. Ebersol’.”

© Cover Media