Britney Spears se nuwe verhouding is heel anders as haar vorige.

Die 31-jarige ster gaan nou met die regsnavorser David Lucado (27) uit. ’n Rede waarom dit so goed gaan tussen die twee, is omdat daar nie soos in die geval met haar eksverloofde Jason Trawick regsbande tussen hulle is nie.

’n Bron het aan die tydskrif Life & Style gesê: “Britney se verhouding met David verskil hemelsbreed van haar verhouding met Jason.

“Jason was nie net haar agent nie, maar vir ’n groot deel van hul verhouding ook haar bewaarder. Sake is op ’n baie vreemde, verwarrende manier met die romanse verweef.”

Britney het twee seuns, Sean Preston (7) en Jayden James (6), uit haar huwelik met Kevin Federline. Haar pa, Jamie Spears, het haar aan die sakeman voorgestel en die blonde skoonheid geniet die “prettige” kant van hul verhouding.

Die bron het bygevoeg: “Met David is dit net pret, want hulle hou van mekaar. Dit moet vir Brit ’n vars briesie wees.”

Voorheen is berig dat Jamie as voorsorgmaatreël David se agtergrond laat ondersoek en hom ’n vertroulikheidsooreenkoms laat onderteken het. Jamie is medebewaarder van sy dogter se sake.

Soos ’n bron voorheen gesê het: “Voor David tyd saam met Brit begin deurbring het, moes hy ’n agtergrondondersoek ondergaan en ’n vertroulikheidsooreenkoms onderteken. Pappa Spears het alles gereël. Dis reg met David en hy verstaan volkome waarom dit gedoen is.”