Al sê haar bestuur dit is nie so nie, vertel Britney Spears sy voel onder druk om sexy te lyk.

Die sangeres het vertel sy voel soms ongemaklik omdat haar bestuur vereis sy moet ’n gewaagde beeld hê om albums te verkoop. Sy sou dinge makker wou hou ter wille van haar seuns, Sean Preston (8) en Jayden James (7).

Dit kom nadat haar nuwe video, Work B****, in Brittanje verban is omdat dansers daarin op ’n sado-masochistiese wyse gepiets word.

In ’n radio-onderhoud op The TJ Show het Britney vertel sy moes dinge afwater. “Ek het omtrent die helfte van die Work B****-video uitgesny omdat ek ’n ma is. Dis moeilik om ’n sexy ma te speel terwyl jy ook ’n popster is. Ek moet getrou bly aan myself.”

Op ’n vraag of haar span haar aangemoedig het om sexy te wees, het Britney (31) geantwoord: “Ja, daar is baie gewaagdheid in wat ek doen, jy weet? Maar soms sou ek dit wou hê soos in die ou dae, toe daar een uitrusting in die hele video was. En jy die hele video deur gedans het, en daar nie so baie sexy dinge aangegaan het nie. Dit gaan oor die dans. Dis ouskool. Dis om dit eg te hou en dit net oor die dans te doen. Ek sou graag so ’n video wou doen.”

Haar pa, Jamie Spears, en bestuurder, Larry Rudolph, ontken ten sterkste sy ooit onder druk geplaas word om enigiets te doen. Jamie hou toesig oor haar regsake sedert sy in 2007 ’n ineenstorting gehad het. Hulle sê sy het insae gehad oor die kreatiewe aspek van die video. Tog het hulle erken sy wou sommige dele van haar Work B****-video verander om ’n balans tussen sexy en ma wees te vind.