Britney Spears (31) het verklap Sean Preston (7) en Jayden James (6), haar seuns uit haar huwelik met Kevin Federline, hou nie daarvan om haar voor hul maats te soen nie, want hulle dink nie dis koel nie.

Sy het op KIIS-FM aan Ryan Seacrest gesê: “My seuns is ses en sewe en bereik nou net die stadium waar jy nie jou mamma voor jou maats kan soen nie en so aan. Hulle snap wat koel is en wat nie.”

Intussen het Britney die liedjie Ooh La La vir die Smurfs 2-klankbaan opgeneem omdat die seuns groot aanhangers van die strokiesprent is.

Sy het gesê: “My seuns was die hoofrede waarom ek dit gedoen het. Hulle is behep met The Smurfs. Ons het die fliek The Smurfs al miljoen, triljoen, keer gekyk en hulle het gehoor hulle kon in die musiekvideo wees.

“Preston was slaggereed elke keer dat hulle hom aangesê het om iets in die video te doen. Hulle speel hulself. Maar toe die video geskiet is, het ek hulle nie gesien nie. Ek het my hare en grimering laat doen en het eers later gesien wat hulle voor die kamera gedoen het. Dit was te dierbaar!”