Britney Spears gaan geskiedenis maak in Las Vegas.

Ten spyte van teenstrydige berigte oor kaartjieverkope vir die sangeres se Britney: Piece of Me-konserte, word die reeks konserte die vertoning genoem wat die beste in die geskiedenis van Vegas verkoop. Die kaartjies vir al die konserte is byna uitverkoop. Die reeks konserte begin op 27 Desember.

Die Work Bitch-sangeres se bestuurder, Larry Rudolph, het aan EOnline.com gesê: “Dis die vertoning wat die beste in die geskiedenis van Vegas verkoop. Ons het wonderlike verkope.”

’n Bron het aan die skinderwebtuiste, TMZ.com, vertel net 3 358 kaartjies is nog beskikbaar vir die eerste 16 konserte. Britney (27) het reeds 70 242 kaartjies van die 73 600 verkoop wat verlede week te koop aangebied is.

Britney sal as deel van haar R150 miljoen-ooreenkoms met die Planet Hollywood-hotel vir die volgende twee jaar 48 konserte per jaar hou.

Sy het van haar konserte vertel: “Ons gaan alles hê – sneeu, water, reën, alles.”