Dit is so hittete of Britney Spears het vroeër vandeesmaand tydens ’n vakansie in Hawaii verdrink.

Die sangeres het gesê haar lewe het voor haar oë verbygeflits toe sy deur “1,8 m hoë” golwe onder die water ingetrek is terwyl sy enkele meter van haar veiligheidspersoneel af geswem het.

“Ek het gedink dis soos ’n getypoel en gesê: ‘Dit is so lekker en verfrissend en eenvoudig pragtig,’” het sy aan die BBC vertel. “Waaraan ek nie gedink het nie, is dat die golwe regte sterk terugtrek wanneer jy probeer uitkom. Ek is sowat vyf minute lank ingetrek. Ek het amper verdrink. Ek het gewonder waar my veiligheidswagte was – hulle sou my net daar laat sterf!”

Ná die tyd het Britney, wie se album Glory Vrydag uitgereik word, haar veiligheidswagte goed die kop gewas.

“Ek het weer in die water gegaan, maar toe trek nog ’n golf my in.” Sy het verder aan Scott Mills van BBC Radio gesê ’n klomp bekendes het haar in die steek gelaat. Hulle het glo aangebied om met haar saam te werk, maar dan verdwyn.

Justin Bieber het haar wel beïndruk toe sy hom ’n paar jaar gelede ontmoet. “Hy het by my hotelkamer ingestap en was soos ’n kind.”

Sy erken sy het eers geen idee gehad wie hy is nie. “Al het hy 13 jaar oud gelyk, was hy 16. Ek wou weet wie dié kind is, toe antwoord my suster: ‘Dit is Justin Bieber en sy ma.’ Ek kon dit nie glo nie! Hy is baie pretensieloos. Hy is ’n baie, baie gawe en vriendelike kêrel.

© Cover Media