Britney Spears het mense aan die gis dat sy en David Lucado getroud is.

Die Perfume-sangeres het in Januarie 2013 haar verlowing met haar eertydse agent Jason Trawick verbreek. Sy het Saterdag (25 Januarie) by haar seuns, Sean (8) en Jayden (7), se sokkerwedstryd in Los Angeles ’n eenvoudige, elegante, goue ring aan haar ringvinger gedra.

Gemeenskaplike vriende het Britney (32) en David, ’n navorser in die regte, verlede jaar op ’n partytjie aan mekaar voorgestel. Hulle was glo dadelik aangetrokke tot mekaar.

Sy het Saterdag haar hand omhoog gehou sodat bewonderaars en fotograwe haar ring kon sien, berig MailOnline.

Britney en die pa van haar seuns, Kevin Federline, was drie jaar getroud, tot Maart 2007. Sy en haar jeugvriend Jason Alexander is in Januarie 2004 in Las Vegas getroud, maar die huwelik het net 55 uur gehou.

Britney het einde verlede jaar gesê sy hoop sy sal weer kan trou en kinders hê. Sy het David as ’n eenvoudige dog passievolle mens beskryf en gesê: “Hy is snaaks en sexy, en ek is lief vir hom.”