Britney Spears se liedjies word ingespan om Somaliese seerowers die skrik op die lyf te jaag.

Volgens handelsvlootoffisier Rachel Owens is die sangeres (31) se groot treffers Oops! . . . I Did It Again en Baby One More Time die suksesvolste afskrikmiddel vir die seerowers.

“Die veiligheidspan het haar liedjies gekies, want hulle het gemeen die seerowers sal hulle die meeste verafsku,” sê sy. “Hierdie ouens kan die Westerse kultuur of musiek nie verdra nie en dit maak Britney se treffers ideaal.”

Rachel het onthul die seerowers laat spaander toe hulle Britney se liedjies hoor.

“Dis so doeltreffend dat die skip se veiligheidsmense selde geweervuur hoef te gebruik,” sê sy. “Sodra die seerowers ’n skeut Britney kry, kies hulle die hasepad.”