Elders ter wêreld kan medikasie wat kodeïen bevat, slegs met ’n voorskrif gekoop word terwyl produkte soos Myprodol, Benylin en Sinutab met kodeïen in Suid-Afrika steeds sonder ’n voorskrif beskikbaar is.

Dié nuwe instelling is nie wetgewing nie, maar word aangevoor deur die Gemeenskapsapterkersektor, wat sowat 80 persent van Suid-Afrika se aptekers verteenwoordig en ’n afdeling is van die Aptekersvereniging van Suid-Afrika. Die reëling is gemik daarop om “die pasiënt sowel as die apteker te beskerm,” sê dr. Johann Kruger, die voorsitter van die Aptekersvereniging van Suid Afrika.

“In Suid-Afrika het ons nog die voordeel dat die gebruik van kodeïen, wat ’n baie doeltreffende middel is, maklik en goedkoop aan die verbruiker beskikbaar is.” Daar is tog ook probleme daaraan verbonde, soos moontlike misbruik van die middel, en dié projek is daarop gemik om juis hierdie probleem te verminder sonder dat kodeïen ’n voorskrifmiddel gemaak word.

Die nuwe reël betrek dokters, vervaardigers, groothandelaars en kettingroepe soos Clicks en Dis-Chem, sowel as die mense wat sorg vir apteke se rekenaarsagteware deurdat die hoeveelheid kodeïen aan jou ID-nommer gekoppel word op ’n nasionale databasis.

As ’n pasiënt, sal jy moet toestemming gee dat die apteek jou ID-nommer gebruik, maar die apteke word ook gebind aan ’n vertroulikheidsklousule wat bepaal dat hulle nie vertroulike  inligting mag sien of deel nie; daarom sal hulle net toegang hê tot die hoeveelheid kodeïen by jou ID-nommer, niks anders nie.

“Dit beteken as jy byvoorbeeld onwetend ’n hoesstroop koop wat kodeïen bevat en jy môre ’n pynpil wil koop wat dit ook bevat, kan die apteker jou waarsku om nie die twee middels saam te gebruik nie, of dalk ’n middel voorstel wat dit nie bevat nie.”

Die limiet vir kodeïen-gebruik word gestel op 4 g per maand, wat baie hoër is as ’n hoesstroop en ’n pynpil of twee; dus sal die apteker jou nie verhoed om die twee middels te koop soos in die voorbeeld hierbo nie. Daar sal net ’n waarskuwing op die stelsel verskyn sodra jy jou limiet bereik.

Kruger sê dié reël geld vir alle aptekers en dat die Gemeenskapaptekerssektor tans besig is met ’n bewusmakingsveldtog onder hulle lede sowel as onafhanklike aptekers.

“Die geheim van veilige medikasie-gebruik lê nie daarin om alles op voorskrif te kry nie, maar liewer die pasiënt in te lig en seker te maak dat daar ’n gesonde verhouding en genoeg inligting beskikbaar is tussen apteker, dokter en verbruiker.”

Vir nog inligting oor die nuwe instelling, kan jy die Gemeenskapaptekersektor nader by 011-728-6668.

Dalena Theron