Marianne Winkler, ’n afgetrede posmeester van Brittanje, het in April ’n briefie in ’n bottel op die Noordsee-eiland Amrum opgetel. Amrum is deel van Duitsland.

Min het sy toe geweet sy het amptelik die wêreld se oudste bottelbrief gevind.

In die bottel was ’n poskaart geadresseer aan die Mariene Biologiese Vereniging (MBV) in Plymouth. Dit was een van meer as 1 000 bottels met poskaarte wat tussen 1904 en ’06 in die Noordsee losgelaat is.

Die ontslape destydse president van die MBV, George P. Bidder, het dit gedoen om seestrome te probeer navors. Sowat 55 persent van die bottels is deur vissermanne opgeraap en die res het in die niet verdwyn.

Party het wel later op strande uitgespoel, wat George tot die gevolgtrekking laat kom het dat sterk strome ook diep onder die seeoppervlak voorkom.

Destyds is ’n beloning van 1 sjieling (in vandag se geld sowat €70 of sowat R1 000) aangebied as ’n mens een van die bottels vind, die poskaart invul en aan die MBV terugstuur.

Marianne het haar poskaart ook aan die MBV teruggestuur, 109 jaar nadat hulle dit in die see gegooi het. Die vereniging het intussen laat weet haar beloning is op pad.

In Maart verlede jaar het ’n 101 jaar oue bottel by Kiel, ook in Duitsland, uitgespoel. Dit het ’n privaat briefie bevat. Duitse owerhede het die briefie toe aan die geadresseerde se verstomde kleindogter afgelewer.

Bronne: Der Spiegel, The Telegraph, Euronews