NOEM hom sommer Die Butler. Brett se butler, die man op die rand van die binnekring. Die vlieg wat teen Brett Kebble se peperduur muurpapier gesit het en al sy geheime ken...

As butler in die Kebble-huis was Andrew Minnaar (43) tot die dag van die omstrede sakeman se moord maar altyd in die omgewing wanneer vergaderings en partytjies gehou is. En so kon hy presies sien hoe Brett (41) sy manipulerende spel speel en sy pionne rondskuifn . . .

Die galante man wat ons by die voordeur innooi, verwelkom al nege jaar lank gaste by die superrykes se voordeure. Hy onthaal hulle en dra hulle op die hande. Hy is die volmaakte butler.

Hy giggel effe senuagtig toe hy hom in ’n stoel gemaklik maak. Ja, dié butler beplan nou nes prinses Diana Spencer se butler, Paul Burrell, destyds met haar gemaak het, om die vermoorde mynmagnaat Brett Kebble se diepste geheime in sy eie boek uit te lap.

‘‘Die boek se titel is What the Butler Saw. Daar sal ’n ietsie van alles wees,’’ vertel Andrew geheimsinnig in ’n luukse huis in Inanda, Johannesburg, waar hy deesdae alles van logistieke bestuurder tot sjef en personeelbestuurder is. In sy pers hemp en swart broek met sy hare stylvol kort geknip, lyk hy self soos ’n miljoenêr. Hy pas perfek in die prentjie.

Andrew het in die laaste vyf jaar van Brett se lewe – tot 27 September 2005, die dag van sy moord – tussen die omstrede sakeman se huise in Houghton, Inanda en Melrose in Johannesburg en die herehuis Fair Seat in Bishopscourt in Kaapstad beweeg. Hy was onlangs ’n getuie in die Johannesburgse hooggeregshof waar Glenn Agliotti onder meer weens die moord op sy gewese werkgewer verhoor word.

‘‘Brett was ’n uitstekende sakeman met ’n vlymskerp sakebrein,’’ vertel hy. ‘‘Hy sou 5 sent op hierdie tafel los en vyf weke later terugkom en vra waar dit is.

‘‘Vir hom was alles ’n spel. Ek dink nie hy het een ware vriend gehad nie. Hy het mense soos pionne rondgeskuif en die regte skuiwe gemaak om die meester van die spel te bly.’’

Maar êrens het hy sy greep op die pionne verloor, glo Andrew, en dit was die einde van Brett.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010.