Rugbyspelers het vandeesweek raad gegee oor hoe prins Harry sy beseerde nek kan behandel.

Harry (29) en sy pa, prins Charles (64), het spelers en beamptes van die Rugbyliga-wêreldbeker verwelkom by ’n onthaal in Clarence House in Londen.

Charles het die Engelse rugbyligaspeler Sam Burgess (24) gevra of hy raad het vir Harry se stywe nek. Harry is besig met voorbereidings vir ’n uitmergelende Suidpool-tog vir liefdadigheid.

Sam het vertel: “Prins Charles het gesê hy sal prins Harry dalk na my toe moet stuur vir hulp met sy beseerde nek.

“Hy het gesê hy het raad daaroor gevra by Zara (Phillips) se man, (die rugbyspeler) Mike Tindall, en dit het gehelp. Ons het gesels oor beserings en behandelings en dat hy ys op sy nek moet sit.”

’n Bron naby aan die prins het vertel hy sukkel al ’n rukkie met sy nek. Hy het aan die koerant Express gesê: “Dit pla hom net af en toe. Hy wil dit nou heeltemal laat herstel.”

Harry het ook onlangs sy toon gebreek. Tog is hy vasbeslote dit sal hom nie verhoed om deel te neem aan die Suidpool-tog van 208 myl (sowat 334 km) nie. Hy sal vergesel wees van ’n span gestremde soldate van die Walking With the Wounded-liefdadigheidsorganisasie.