Die see word dalk jou laaste rusplek, maar pleks dat jou as byvoorbeeld oor die water gestrooi word, word dit in ’n spesiale “koraalrifbal” vasgevang wat baie lank ná jou heengaan nog seelewe help bevorder.

Boonop kan jy en ’n geliefde maat saam-saam so in die dieptes onbepaald aan die natuurlike ekostelsel van ’n koraalkolonie help bou.

Net nog ’n foefie van mense wat wil munt slaan uit die enigste sekerheid van ons bestaan, naamlik dat ons almal eendag doodgaan?

Wel, vir baie natuur- en veral seeliefhebbers en hul naasbestaandes het so ’n lêplek in die bloutes heelwat sin.

’n Tragiese geval tussen die duisende wie se nagedagtenis reeds vandag in koraal voortleef (honderde van hulle in die Golf van Mexiko) is dié van John Flowers van die Amerikaanse deelstaat Florida. John, versot op duik en veral skubaduik, en 'n geesdriftige oseaanpaleontologiestudent, se lewe is op net 20 deur breinkanker kortgeknip.

En sy ma, Phyllis, het onlangs vertel hoe dit sy laaste wens was dat sy as in ’n beton-koraalrifbal onder die see geplaas sou word.  

Dié merendeels hol strukture is oorspronklik ontwerp om afgetakelde koraalriwwe te help herstel en aanvul deur ’n habitat vir allerlei seelewe te bied. Na raming 700 000 koraalrifballe word in 4 000 uiteenlopende projekte in 70 lande gebruik.

Maar maatskappye soos Eternal Reefs bied mense ook lankal die koraalrif-begrafnisopsie; om as deel van ’n rifbal “die mariene omgewing te help beskerm, bewaar en aanvul”.

John, wat langs die kus grootgeword het, het al op ses begin duik en op 14 die eerste keer in ’n hok geduik. Hy was mal oor alle seelewe, veral haaie en dolfyne. As paleontoloog wou hy ook fossiele en prehistoriese diere van die oseane bestudeer.

Maar toe hy eendag van die Wes-Florida-universiteit af tuiskom, het hy gekla dat hy rooi spikkels voor sy oë sien dans, het Phyllis vertel. “Ek het hom oogarts toe geneem met die verwagting dat hy ’n bril nodig sou hê.”

Helaas, ’n MRI het eindelik getoon haar seun ly aan ’n seldsame vorm van breinkanker wat deur die brein en senustelsel versprei en waarop nie geopereer kon word nie. Chemo- en radioterapie was sy enigste hoop.

Die saggeaarde, sorgsame John het mettertyd oor sy dood begin praat – en ’n paar weke voor die einde van sy sewe maande lange stryd vir Phyllis vertel hoe hy ter see begrawe wou word.

“Hy wou ook nie hê sy begrafnis moes hartseer wees nie . . .”

‘Grafsteen’ met ’n verskil

John het gevra sy brein en rugmurg moes geskenk word vir navorsing oor sy toestand.

Die res van hom sou ’n geskenk aan die see wees. Sy as is in ’n omgewingsvriendelike beton vermeng vir ’n koraalrifbal, wat ook van sy duikaandenkings soos dinosourus-tande en sy eerste duikmes sou insluit, asook van sy geliefdes se handafdrukke en ’n bronsplaatjie met die grafskrif: “John Flowers: geliefde seun, broer, vriend & leermeester.”

Dit was blykbaar reeds die 700ste bal van dié aard wat koraalrifgroei daar in die Golf van Mexiko aanhelp.

Die maatskappy Eternal Reefs reken dié rifballe is ’n ideale medium vir mikro-organismes om in te skuil en aan te teel. Visse kom ook inloer sodra hulle grondvat en “ons kan binne ’n paar weke groei op die rifballe sien.

Hulle word permanente toevoegings tot die seeomgewing en sal aanhou ontwikkel en mariene lewe nog lank onderhou.

Soms vra lewensmaats ook om ná hul dood in koraal herenig te word. Soos Joan en Anthony Muscara, wie se as in ’n koraalrifbal onder die Golf van Mexiko verenig lê: “Saam sedert 1947, lui die grafskrif.

“Eternal Reefs het ook al heelparty troeteldiere saam met hul eienaars in riwwe geplaas, sê die maatskappy.

Wat kos dit alles?

Die koraalrifballe kom in verskillende groottes, van sowat 300 kg to 1,8 ton, en pryse wissel van sowat R40 000 tot R90 000, insluitend alles van verskeping tot plasing.

Bronne: eternalreefs.com, Facebook; YouTube; uk.news.yahoo.com; metro.co.uk; legacy.com