Hulde is ook gebring aan die oorlede akteurs Cory Monteith van Glee en James Gandolfini van The Sopranos.

Breaking Bad, waarin Bryan Cranston verskyn, het gisteraand sy eerste prys vir beste drama gekry. Die program eindig later vandeesmaand ná vyf seisoene. Die aktrise Anna Gunn, wat die rol van Skyler White vertolk, het die prys vir beste ondersteunende aktrise gekry.

Die skepper en skrywer, Vince Gilligan, het gisteraand op die verhoog van die Nokia-teater in Los Angeles erken hy het nie verwag sy program sou wen nie. “Ek het gedink dit sou House of Cards wees.”

Die sitkom Modern Family het vir die vierde keer agtereenvolgens die prys vir beste komedie gekry. Sofia Vergara en Julie Bowen speel daarin.

Claire Danes, die Homeland-aktrise, het haar tweede Emmy vir haar uitbeelding van die CIA-agent Carrie Mathison gekry. Jim Parsons, wat die rol van die opperste bleeksiel Sheldon Cooper vertolk, het sy derde Emmy vir dié rol gekry.

Dit was ’n verrassing toe die Newsroom-akteur Jeff Daniels en Nurse Jackie se Meritt Wever onderskeidelik pryse vir beste akteur in ’n drama en beste ondersteunende aktrise in ’n komedie kry.

Die bekende akteur Michael Douglas is met ’n prys vir beste akteur in ’n minireeks of rolprent vereer vir sy rol as Liberace in Behind the Candelabra. Die rolprent, wat deur Steven Soderbergh geregisseer is, is op die Amerikaanse betaalkanaal HBO uitgereik. Daarom het dit in aanmerking vir die Emmys pleks van die Oscars gekom.

Vanjaar se Emmy Awards was ernstiger as in die verlede, met huldeblyke aan Cory Monteith van Glee en James Gandolfini, ’n hoofrolspeler van The Sopranos. James se vorige vrou in die program, Edie Falco, het hulde aan hom gebring. Die Glee-aktrise, Jane Lynch, het ’n huldeblyk aan Cory gelewer. Hy is in Julie oorlede. Wenners van die Emmy Awards 2013:

  • Beste drama: Breaking Bad
  • Beste komedie: Modern Family
  • Beste minireeks of rolprent: Behind the Candelabra
  • Beste werklikheidswedstryd: The Voice
  • Beste akteur in ’n drama: Jeff Daniels, The Newsroom
  • Beste aktrise in ’n drama: Claire Danes, Homeland
  • Beste akteur in ’n komedie: Jim Parsons, The Big Bang Theory
  • Beste aktrise in ’n komedie: Julia Louis-Dreyfus, Veep
  • Beste manlike byspeler in ’n drama: Bobby Cannavale, Boardwalk Empire
  • Beste vroulike byspeler in ’n drama: Anna Gunn, Breaking Bad
  • Beste manlike byspeler in ’n komedie: Tony Hale, Veep
  • Beste vroulike byspeler in ’n komedie: Meritt Wever, Nurse Jackie
  • Beste akteur in ’n minireeks of rolprent: Michael Douglas, Behind the Candelabra
  • Beste aktrise in ’n minireeks of rolprent: Laura Linney, The Big C: Hereafter
  • Beste manlike byspeler in ’n minireeks of rolprent: James Cromwell, American Horror Story: Asylum
  • Beste vroulike byspeler in ’n minireeks of rolprent: Ellen Burstyn, Political Animals