Om beroof te word sal enige mens die skrik op die lyf jaag.

’n Arme amateurfotograaf van Dudley in Engeland was helder oordag besig om foto’s van voëls in ’n plaaslike park te neem toe twee skobbejakke hom van sy kamera probeer beroof het.

Gelukkig kon hulle nie daarin slaag nie.

Die 69-jarige fotograaf was egter so geskok, hy het inmekaargesak weens ’n hartaanval.

Wonder bo wonder kon hy steeds daarin slaag om die twee boewe op kamera vas te vang voor hy terug na sy huis gekruip het om ’n ambulans te ontbied.

Die polisie het bevestig die man is nou in die hospitaal en moet binnekort ’n ernstige operasie ondergaan.

Die twee skelms wat die man probeer beroof het, het vroeër glo ook ’n motorfiets gesteel.

Die polisie hoop die man se foto gaan hulle help om die tweestuks vas te trek.

Die polisie het ook laat hoor hulle is baie trots op die man, wat ten spyte van sy hartaanval braaf genoeg was om die boewe nie net af te neem nie, maar ook te keer dat hulle sy kamera steel.

Die man se naam is nie bekendgemaak nie.

Bronne: SkyNews; Mirror