Hannes van Wyk, Bravo!-aanbieder, gaan binnekort op die Kwêla-bank as die nuwe aanbieder van dié gewilde program te sien wees het kykNET onhul.

kykNET het in Februarie aangekondig dat Coenie de Villiers ná 15 jaar as Kwêla-aanbieder besluit om dié program te groet. Hy is deesdae aanbieder van ’n Ander Wêreld met Coenie.

Coenie se laaste episode as Kwêla-aanbieder word op 20 Mei 2015 uitgesaai. Kykers sal Hannes vir die eerste keer op Kwêla vanaf 27 Mei kan sien.

“Die Kwêla-bank is ’n ikoniese kykNET-simbool en dit voel eintlik soos 'n toekenning of groot prys wat ek kry,” het Hannes aan Huisgenoot.com gesê.

“Ek het groot skeoene om te vul, maar is reg vir die uitdaging.

“In die toekoms sal 27 Mei vir my ’n opwindende datum wees – dit sal wees soos om my verjaarsdag te vier.”

Kwêla se uitvoerende vervaardiger, Paul Venter, meen Hannes se skuif na Kwêla is 'n natuurlike keuse.

"Hannes het homself reeds deur en deur bewys as nie net ’n volksliefling nie, maar ook goeie onderhoudvoerder - iemand wat van ’n skoolkind tot Sophia Loren op skerm kan laat gesels en kuier asof hulle in hulle eie woonkamer sit," het hy gesê.

"Ons gaan vir Coenie mis, maar is opgewonde om die volgende era van Kwela saam met Hannes aan te pak."