Die paartjie het met hul kroos van ses, die aangenome Maddox (12), Pax (10) en Zahara (9) en hul biologiese kinders, Shiloh (7) en Knox en Vivienne (5), gesels oor die moontlikheid dat hulle nog ’n dogtertjie in hul gesin kan verwelkom.

“Angelina en Brad het in die Kerstyd gereeld daaroor gesels om hul gesin uit te brei,” het ’n bron aan Grazia gesê. “Hulle speel oop kaarte met die kinders daaroor; almal is opgewonde oor dié vooruitsig.”

Die paartjie wou aanvanklik ’n kind uit Jordanië aanneem, maar die aanneming was te moeilik en hulle het toe glo besluit om liewer weeshuise te nader in Etiopië, hul oudste dogter se geboorteland.

“Hulle wou nog altyd gehad het Zahara moet ’n broer of suster hê wat haar Afrika-herkoms deel,” sê die bron. “Eintlik sou hulle ’n dogtertjie tussen twee en drie jaar wou hê.”

Brad en Angelina, wat om raad aangeklop het by dr. Jane Aronson, ’n vriendin en kenner oor aannemings, laat ’n vigskliniek in Zahara se naam in Etiopië bou en sal na verwagting die land in April besoek wanneer hulle weeshuishoofde ook sal ontmoet.

“Hulle sal waarskynlik binne die volgende paar maande Etiopië besoek om te kyk hoe dinge by die klink vorder, maar sal ook terselfdertyd weeshuise besoek. Hulle hoop om alles in plek te hê om in April met die aanneming voort te gaan.”