Die A-lyspaartjie wil na bewering hul kroos uitbrei deur nog ’n biologiese kind saam te hê en ’n Siriese weeskind uit ’n vlugtelingskamp in Jordanië aan te neem. Hulle het reeds ses kinders: Maddox (11), Pax (9), Zahara (8), Shiloh (6) en die vierjarige tweeling, Knox en Vivienne. Angelina, ’n filantroop, het glo so besluit nadat sy verlede week Siriese vlugtelinge by die Zaatari-kamp in Jordanië besoek het. ’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Angie en Brad se houding oor kinders is: Hoe meer, hoe beter. As jy eers ’n klompie het, gaan nog ’n paar geen verskil maak nie. “Die situasie in Sirië het haar diep geraak en sy wil ’n kind uit Jordanië aanneem om haar deel te doen om te help. “Die publisiteit sal die wêreld se aandag help vestig op wat daar aangaan. Die tweeling is nou vier en Angie en Brad stem saam dis tyd vir nog kinders. Hulle hou duim vas dat hulle binnekort hul volgende kind sal huis toe bring.   “Sy is vriende met koningin Rania van Jordanië en dit sal moontlik met die aanneming help. Maar Angie en Brad wil ook nog ’n biologiese kind hê; daarom volg sy ’n kaliumryke dieet.” Die aktrise het onlangs ’n dubbele mastektomie ondergaan nadat sy uitgevind het sy het ’n genetiese mutasie wat haar kans op bors- en eierstokkanker verhoog. Die bron het bygevoeg: “Angie en Brad is selfs erger oor hul gesinslewe ná haar onlangse gesondheidskok. Dit het hulle ingestel op wat werklik belangrik is.” Dit sal nie die eerste Jolie-Pitt-kind wees wat in die buiteland aangeneem word nie. Maddox is uit ’n weeshuis in Kambodja aangeneem, Zahara uit Etiopië en Pax uit Viëtnam.