Die voorval het vroeër vandeesweek plaasgevind toe Brad Pitt en Angelina Jolie se oudste seun, Maddox (11), by die Hollywood Sports Paintball Park in Bellflower, Kalifornië, saam met ’n lyfwag verfbal gaan speel het.

Terwyl ’n gekamoefleerde Maddox – Vivienne en Knox (4), Shiloh (7), Zahara (8) en Pax (9) se ouboet – in die park rondgehardloop het, het die dief probeer om die gesin se gedeelde toestel met al hul persoonlike besonderhede op te steel.

’n Ongeïdentifiseerde man met swart handskoene is op heterdaad in die akteurs se sportnutsvoertuig betrap waar hy die iPad, met die woord “family” gemerk, probeer steel het. Hy is op die toneel in hegtenis geneem, berig MailOnline.

Brad (49) en Angelina (38) het nog selde veiligheidsprobleme gehad. In Mei het die polisie by die paartjie se Franse landgoed, Chateau Miraval, afgekom op twee mans wat by die eiendom probeer inbreek het, aangetrek soos die twee Hollywood-bekendes. Later het dit geblyk dis deel van ’n televisiepoets.

Die paartjie, wat na verwagting vanjaar sal trou, is glo gelukkiger as ooit. Volgens bronne het Angelina se onlangse mastektomie hulle nader aan mekaar gebring. Sy het dit ondergaan nadat ontdek is sy het ’n rare geenmutasie wat ’n mens se risiko vir borskanker verhoog.

’n Kennis het gesê: “Hulle het geweldige struikelblokke oorkom, soos Angie se onlangse dubbele mastektomie, en dit het hulle nuwe waardering vir hul wonderlike gesinslewe gegee.”