Die fabrieksvistreiler, die Verano Porto Villa, het reeds Woensdag aan die brand geslaan. Rookwolke afskomstig van die brand is kilometers ver gesien. Vyf bemanningslede aan boord is op dieselfde dag ontruim. Hulle het gelukkig geen beserings opgedoen nie.

Aan boord van die treiler is nagenoeg 800 000 polistireenhouers en sowat 100 000 liter diesel.
Liezl Moodie, woordvoerder van die Kaapse brandweerdienste, het aan News24 gesê brandweermanne moes van die vaartuig ontruim word nadat dit begin oorhel het. Daar is ook water wat deur gate binnesyfer en bydra tot die onstabiliteit van die vaartuig.

Die situasie word gemonitor om te besluit watter stappe volgende geneem moet word. Sover bekend word geen ander vaartuie in die omgewing hierdeur geraak nie.

Bron: News24