’n Brandweerman is Saterdag dood terwyl hy sy lewe gewaag het om vasgekeerde motoriste uit ’n sleurstroom te red.

ER24 skryf die brandweerman was besig om die insittendes van ’n motor wat meegesleur is deur ’n rivier naby Kwaggafontein in Mpumalanga te red toe hy self deur die skuimende water verswelg word.

Die reddingswerker en een van die insittendes van die voertuig, 'n 26-jarige vrou, het verdrink. Die bestuurder van die voertuig is gered.

Die vrou is na wat berig word net twee weke gelede getroud.

Dramatiese foto's van die voorval wys die voertuig -- ooglopend ’n taxi -- wat vasgekeer is in die middel van die erg oorstroomde rivier. ’n Brandweerwa staan aan die oorkantste wal.

Die brandweerman en die vrou se liggame is reeds uit die rivier gehaal.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Saterdag ’n waarskuwing van gietende reën en ’n verhoogde kans op kitsvloede vir ’n wydverspreide area in Gauteng en Mpumalanga uitgereik. Daar heers ook chaos op Gautengse paaie weens die reën met talle ongelukke wat reeds aangemeld is.

Nooddienste maan motoriste om veilig te bestuur terwyl die nat weerstoestande na verwagting tot Sondag sal voortduur.

“Jy moet by die spoedgrens hou of selfs stadiger as gewoonlik ry. Op hoofweë veral is sigbaarheid baie swak. As jy in ’n noodgeval vinnig moet stilhou, sal dit jou langer as gewoonlik neem om tot stilstand te kom,” het Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare911, aan Netwerk24 gesê. Sy raai ook alle motoriste aan om noodnommers op hul selfone te stoor.