Brandbestryders moes ’n man se trots uit ’n broodrooster verwyder.

Die Londense brandweer se hulp is ontbied toe die ongelukkige kêrel se penis in die broodrooster vassit. Dis een van 1 300 pynlike gebeurtenisse sedert 2010 waarin mense vasgesit of vasgevang was.

Die brandweer moes 79 mense uit boeie bevry nadat seksspeletjies skeefgeloop het. Hulle noem dit die Fifty Shades of Grey-invloed, na aanleiding van die gewilde erotiese roman.

Brandweerhoofde versoek mense om ’n bietjie meer gesonde verstand aan die dag te lê sodat hul tyd nie gemors word nie.

Die brandweerbeampte Dave Brown sê: “Sommige van die gebeurtenisse waarheen ons ontbied word, kon met ’n bietjie gesonde verstand verhoed gewees het. Ek weet nie of dit die Fifty Shades-invloed is nie, maar dit lyk asof daar nou meer voorvalle is waarby boeie betrokke is.

“Ek is seker die meeste mense sal 50 skakerings van rooi wees wanneer ons spanne daar aankom om hulle te bevry.

“Ek wil almal herinner 999 is ’n noodnommer, en moet daarvoor gebruik word.”