OM DIE hoek van die gang kom ’n lyfie stadig aangeskuifel, armpies wyd uitgesteek vir balans. Versigtig,  treetjie vir treetjie, stap hy in die gang af en kom glimlaggend by ’n rusbank in die sitkamer tot stilstand.

‘‘Kyk, Mamma,’’ sê hy en sy gesiggie straal van trots.

Versigtig, asof hy dit amper nie kan glo nie, gee hy al armswaaiend nog ’n paar treë voor hy rats tot op die rusbank klouter en sy skoene en sokkies afstroop.

Vir Brandon Menezes is dit ’n groot oomblik. Hy lyk dalk soos ’n kleuter van twee, maar eintlik is hy al 10 jaar oud – en vandag kon hy vir die heel eerste keer self loop.

Ná jare van gesondheidsprobleme is albei sy bene uiteindelik byna drie weke gelede by die knieë afgesit, en vandag loop die trotse Brandon vir die eerste keer op sy stompies.

Vir ander kinders sou ’n amputasie dalk katastrofies gewees het, maar vir Brandon, wat aan die dwergsiekte diastrofiese displasie ly, beteken sy stompies die begin van ’n heel nuwe lewe.

Vir die eerste keer in vyf jaar hoef hy nie met onooglike krukke of ’n rolstoel oor die weg te kom nie. Hy kan self kom waar hy wil wees, en dit is ook net ’n kwessie van tyd voor hy met die hulp van kunsbene op sy eie

voete sal kan staan.

Hy kan nie wag om vir die eerste keer aan krieket en rugby deel te neem nie, en hy het klaar ’n rolmodel – Suid-Afrika se bioniese wonder, ons Olimpiese naelloopkampioen.

Brandon vertel tevrede: ‘‘Ek gaan net sulke bene soos Oscar Pistorius kry . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 11 November 2010