Jy het pas jou 18-jarige matriekkind afgesien na hul eerste vakansie ver weg van jou. Jy is klaar bekommerd oor die gerugte van drank en losbandigheid daar by die see. Die laaste ding wat jy nou nog wil hoor, is dat jou kind met ’n nare vervoerslenter ingeloop is.

Taxi’s wat verdwaalde jongmense drie kilometer van hul blyplek aflaai en duisende rande wat vir substandaard-vervoer betaal is, is die jongste hoofpyn waaroor matrieks op Plettenbergbaai nou kla. Duisende matrieks trek op die oomblik daar saam om die einde van hul skoolloopbaan te vier.

“My kind en sy vriende is 3 km van sy blyplek afgelaai nadat hy ’n tarief betaal het. Die bestuurder het net gesê: ‘Ek vat julle nie verder nie en weet net ek doen julle ’n guns’,” vertel Michelle van Wyk, ’n ouer wat tans self op Plettenbergbaai is.

Jongmense wat die Rage-fees, ’n jaarlikse matriekinstelling met musiek en partytjies, bywoon, het R1 950 vir ’n toegangskaartjie betaal wat gratis vervoer tussen hul verblyf en die onderskeie kuierplekke insluit.

Maar party ouers kla sommige van die bestuurders vat vet kanse.

“ ’n Ander bestuurder het aan ’n groep matrieks gesê hul blyplek is nie op die roete nie en hulle moet ekstra betaal. Toe hulle vra hoeveel, het die bestuurder geantwoord: ‘Hoeveel het julle?’ ” vertel Michelle.

Plet is die laaste dae in die nuus nadat koerante onthul het ’n beweerde swendelaar het minstens 100 matrieks se geld aanvaar in ruil vir blyplekke wat toe nooit eens bestaan nie.

Anthony Jacobs, ’n organiseerder van die Rage-fees, sê hulle is bewus van die probleem met die vervoer en het al minstens agt klagtes ontvang sedert hulle op hul Facebook-blad matrieks gevra het om sulke voorvalle aan te meld.

Hulle sou vandag met die plaaslike taxivereniging vergader het om die situasie op te los. Rage-gangers is geregtig op gratis vervoer, maar as hulle ver buite die dorp bly kan ’n bykomende fooi van tot R15 van hulle gevra word.

Volgens Michelle is haar seun al heelwat meer gevra. Hy en ’n vriend moes onlangs amper R50 betaal en steeds het die bestuurder geweier om hulle tot by hul blyplek te neem. Hulle moes self in die vroeë oggendure verder stap.

Nog ’n ouer, Marie Hollander, is briesend oor die situasie. “My kind moet elke dag betaal vir ’n roete wat verniet behoort te wees en dan word hy nog afgelaai ver van die huis af.”

Tania Steyl, wie se kinders ook van die pendeldienste gebruik maak, voel magteloos. “Hulle weet ons is ure weg (van ons kinders), ons moet werk en kan nie ons kinders net kom optel nie, daarom word hulle so uitgebuit.”

Anthony vermoed dit is individuele taxi-bestuurders wat ’n kans vat. “Ons het al hierdie taxi’s vir die duur van die fees uitgekoop – dit het ons oor die R2 miljoen gekos.”

Intussen is daar volgens Michelle steeds matrieks wat sukkel om behoorlike blyplek te vind ná die beweerde verblyfslenter.

Patty Butterworth van die Plettenbergbaai-toeriste-agentskap sê ook die probleem is nog lank nie opgelos nie.

“Ons weet reeds van 100 matrieks wat min of meer R10 000 elk aan verblyf bestee het. Dan is daar is nog vakansiegangers wat kom ook, dus kan die verliese nóg honderdduisende rande meer beloop.”