Witalii Sedioek het Brad op die rooi tapyt by die première van Malifecent in Los Angeles geslaan, maar Brad is nie in die voorval ernstig beseer nie.

Die aantreklike 26-jarige Oekraïnse joernalis is in 1988 in Borispil, Oekraïne, gebore en het ná skool ekonomie aan die Wisconsin Internasionale Universiteit in die Oekraïne studeer.

In sy tweede jaar het hy ’n internskap by die televisiestasie TET gekry en in 2009 geskuif na die ontbytprogram van die land se gewildste televisiestasie, 1+1.

In die twee jaar dat hy daar gewerk het, het hy onderhoude gevoer met bekendes soos Bill Clinton, Madonna, Sarah Jessica Parker, Kylie Minogue, Toni Braxton, Will Smith, Pamela Anderson, Jean-Claude van Damme en Monica Bellucci.

Hy het die eerste keer internasionaal nuus gemaak toe hy tydens ’n filmfees in Venesië vir Madonna ’n krismisroos gee. Sy het dit weggegooi en gesê: “Ek verpes krismisrose.”

In 2012 het Will Smith hom in die gesig geslaan toe hy Will by die Moskou-première van Men in Black 3 op die mond probeer soen. Hy is verlede jaar by die Grammys in hegtenis geneem nadat hy uit die bloute op die verhoog verskyn het en ’n aanvaardingstoespraak begin gee het toe die sangeres Adele haar prys kom ontvang.

In Januarie vanjaar het hy by die Screen Actors Guild-prysaand die akteur Bradley Cooper om die middel gegryp en sy gesig in sy lies gedruk. In Februarie het hy by die Santa Barbara-filmfees dieselfde met Leonardo DiCaprio gedoen.

Maar 1+1 het hom in Maart in die pad gesteek toe hy by die Cannes-filmfees op die rooi tapyt onder die aktrise America Ferrera se rok gekyk het.

Ná die voorval met Brad is hy ’n drie jaar opgeskorte vonnis opgelê, waarvan hy ’n jaar lank sielkundige berading moet ondergaan en 20 uur gemeenskapsdiens moet verrig.