Brad Pitt se dogter dink hy soen Angelina Jolie te veel.

Die paartjie se agtjarige dogter, Zahara, het glo te kenne gegee die World War Z-akteur (49) kan nie sy hande van sy 37-jarige verloofde af hou wanneer hulle by die huis is nie. Hulle het ook vyf ander kinders: Maddox (11), Pax (9), Shiloh (6) en die vierjarige tweeling, Knox en Vivienne.

Brad se goeie vriend en meubelsakevennoot, Frank Pollaro, het vir die tydskrif Esquire gesê: “Eenkeer toe ek instap, het Angie daar gestaan. Zahara het nader gestap en gevra: ‘Pappa, jy gaan nie weer met Mamma begin vry nie, né?’. En dit is so.

“Dit is ’n ou wat probeer het om in geen sexy tonele met vroue te speel vandat hy Angelina ontmoet het nie. Hy is mal oor haar en sy voel dieselfde oor hom.”

Frank het ook onthul die paartjie is gaande oor hul kinders.

Hy het verduidelik: “Maak nie saak hoe hard hy werk nie, as een van die kinders by die venster verbyhardloop, sal hy uit sy stoel opstaan en vir hulle ’n soen gaan gee. Ek dink nie ek het Angie al ooit sonder een van die kinders in haar arms gesien nie.”

Brad beweer hy was nog nooit gelukkiger nie nadat hy Angelina se besluit ten volle ondersteun het om in Februarie ’n dubbele mastektomie te ondergaan. Dit was nadat sy gehoor het sy het ’n 87 persent kans op borskanker omdat sy die BRCA1-geenmutasie dra.

Hy het gesê: “Ek het baie min vriende. Ek het ’n hand vol goeie vriende en ek het my gesin en ek was nog nooit in my lewe so gelukkig nie.

“Ek het altyd gedink dat as ek ’n gesin het, moet dit groot wees. Ek wou hê daar moet ’n chaos in die huis wees . . . Daar’s gedurig ’n gekwetter in ons huis, of dit nou ’n gegiggel of ’n geskree of ’n gekap is.

“Ek is dol daaroor. Ek haat dit wanneer hulle weg is. Ek haat dit. Dis dalk lekker om vir ’n dag in ’n hotelkamer te wees. En te dink: O gaaf, ek kan ’n slag koerant lees. Maar teen die volgende dag mis ek daardie warboel; al daardie lewe.”