Brad Pitt en Angelina Jolie trou dalk op ’n toerskip wat al deur die Britse koningin gehuur is.

Die twee wou eers laat dié somer op hul Franse landgoed Château Miraval afhaak, maar het danksy hul seun Maddox (11) van plan verander. Hulle oorweeg dit nou om aan boord van die Hebridean Princess te trou wat na die Skotse eilande vaar.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Maddox het met die idee van die skip vorendag gekom. Hy het daarop afgekom toe hy na foto’s van die Carnell-landgoed in Ayrshire gekyk het waar ons al tuisgegaan het en waaroor ons almal dol was.

“Hulle het nou daaroor navrae gedoen om die hele vaartuig te bespreek.

“Dis net wat hulle soek. Dit het plek vir tot 50 van hul vriende en familie en dien as ’n tradisionele, romantiese agtergrond. Boonop is dit als heeltemal privaat.

“Hulle kan ook na ’n afgesonderde baai van die Orkney- of Shetland-eilande vaar en die plegtigheid daar hou.”

Die bron het bygevoeg: “Dat Maddox daarop afgekom het, maak dit meer spesiaal.”

Die weelderige skip is al twee keer deur die Britse monarg gebruik: in 2006 om haar 80ste verjaardag te vier en weer in 2010 vir ’n gesinsvakansie. Brad en Angie het ses kinders, Maddox, Pax (9), Zahara (8), Shiloh (6) en die vierjarige tweeling Knox en Vivienne. Hulle sal sowat R4,5 miljoen moet opdok om hul bruilof op die boot te hou.

Ken Charleson, die hoofbedryfsbestuurder van die skip se eienaar, Hebridean Island Cruises, het gesê: “Ons het ’n baie vertroulike verhouding met ’n aantal hoëprofielgaste”.

“Ek kan nie bevestig of ontken dat hulle navrae gedoen het nie.

“Maar hulle is natuurlik baie welkom.”