Brad (49) werk aan Fury, ’n fliek oor die Tweede Wêreldoordlog, en Angelina (38) behartig die regie van die oorlogfliek Unbroken. Sy het al sedert 2004 ’n vlieglisensie.

’n Bron het aan die tydskrif heat gesê: “Brad wou vir Angelina ’n straler geskenk gee sodat hulle tussen die stel van Fury in Londen en haar Unbroken-stel in Hawaii kan reis.

“Hy het gesê sy kan die vliegtuig kies en hy sal betaal. Sodoende kan hulle heen en weer vlieg om mekaar te sien. Angelina wou in elk geval nog altyd met ’n straler oor die see vlieg.”

Angelina en Brad het ses kinders – Maddox (11), Pax (9), Zahara (8), Shiloh (6) en die vierjarige tweeling, Knox en Vivienne. Die verloofdes se oudste seun het Angelina aangespoor om vlieglesse te neem, want sy wou hê hy moes haar as ’n superheld beskou.

Sy het voorheen gesê: “Mad is verstom elke keer dat hy ’n vliegtuig sien. As ek ’n vliegtuig kan vlieg, sal ek vir hom soos Superman wees.”