Brad Pitt en Angelina Jolie het glo ’n lywige huweliksvoorwaardekontrak gesluit. Die paartjie wil oor Kersfees trou en Brad het sy prokureurs ’n kontrak van 101 bladsye laat optrek. Daarvolgens behou hy sy bates van R1,1 biljoen en Angie hare van R900 miljoen indien hulle sou skei. Die kontrak bepaal ook dat hulle in die geval van ’n egskeiding gedeelde toesig oor hul ses kinders kry.

’n Bron het aan die Britse tydskrif Grazia gesê: “Angelina was nog altyd ’n bietjie huiwerig om ’n huweliksvoorwaardekontrak te laat opstel. Brad het haar oortuig dis vir die beste.

“Hy is romanties, maar ook baie prakties. Dit maak sin as ’n mens in ag neem hulle is saam R2 biljoen werd, het ses kinders en baie eiendom oral in die wêreld.

“Brad en Angelina was albei al getroud en weet hoe onaangenaam ’n egskeiding kan raak. Hierdie keer is daar kinders, en Brad wil vir alles voorsiening maak.”

Die paartjie kan nie wettiglik in Frankryk trou nie, aangesien hulle nie Franse burgers is nie. Hulle beplan dat ’n seën oor hul huwelik by hul Franse huis uitgespreek word. Daarna volg ’n seremonie in Hawaii. Dit was Angelina se oorlede ma, Marcheline Bertrand, se gunstelingplek.