China wil lugbesoedeling beheer deur braaivleisvure te verbied en het teen Dinsdag al 500 openbare braaivleisvure geblus.

Intussen maak talle Suid-Afrikaners reg om dié Kerstyd ’n vuurtjie aan te steek, maar selfs hier bly dit belangrik om by jou plaaslike owerheid en buurt of kompleks se regulasies te hou.

Jan Scanell, beter bekend as Jan Braai, deel sy gunstelingbraaiplekke met ons.

  • Maiden’s Cove en Oudekraal naby Clifton en Kampsbaai is van my gunsteling braaiplekke in die Kaap. Dis teenaan die see, het ’n baie mooi uitsig en word in stand gehou.
  • Bo-op Tafelberg by die Overseers Cottage naby die reservoir is ’n baie spesiale plek om te braai.
  • Dieretuinmeer in Johannesburg het talle braaiplekke en is ideaal om ’n braai te hou.
  • Elke kamp in die Krugerwildtuin is bekoorlik.
  • Die Richtersveld is soos een groot braaiplek.
  • Knysna het talle piekniekplekke langs die meer en die see waar ’n mens kan braai.

Hy braai ook minstens drie keer per week tuis in Seepunt of naweke by sy ouers op Stellenbosch. Sy ideale braaiplek by ’n huis is ’n altaarbraai wat onder dak is sodat almal om die braaiplek kan kuier en die braai nie sommer deur die reën gekeer kan word nie.

Volgens Jan is die hele punt van die Kerstyd om tyd saam met familie, vriende en geliefdes deur te bring. Vir hom is die lekker kuier met mense na aan hom om ’n braaivleisvuur. “Jy ervaar samesyn wat jy nie in ’n restaurant sal kry nie.”

Marelize Potgieter

Bykomende bron: Sapa