Die broers Tomas (31) en Daniel (28) Cunnama van Kaapstad het besluit die Ultimate Braai Master-wedstryd (UBM) is die kans van ’n leeftyd. Hulle het met die oudisies hul bes gedoen en dit het gewerk. Maar hul drome is gisteraand verpletter toe hulle in die derde aflewering van hierdie kookprogram op SABC3 uitgeskakel is.

Met hul laaste uitdaging het Tomas en Daniel, wat hul span The Braaight Brothers genoem het, op die oewers van die Jozini-meer in KwaZulu-Natal kampeer. Die meer is ook as die Pongolapoort-meer bekend.

Die broers moes die volgende oggend ontbyt maak op net ’n graaf en ’n vuur in ’n gat. Hulle kon nie daarin slaag om die beoordelaars met hul poging te beïndruk nie.

“Ons het ’n paar foute gemaak, wat ons in ’n uitskakel-uitdaging laat beland het. Toe het ons ’n eenvoudige ontbyt oor-dink en te ingewikkeld gemaak,” verduidelik Tomas. “Ons was baie teleurgestel om so gou huis toe te gaan. Ons het baie gehad om te gee, en het gehoop om ernstige mededingers vir die titel van Ultimate Braai Master te wees. Maar ons kan trots wees op wat ons vermag het.”

Mense wat in Hoofweg in Vishoek ry, sal afkom op Betty’s Coffee Shop op die dorpsvierkant. Tomas is daar die eienaar, bestuurder en kok.

Daniel het op 18 September sy doktorsgraad in astrofisika aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Hy het op dieselfde dag sy UBM-TV-debuut gemaak.

Die broers is lief vir braai “omdat dit die suiwerste vorm van kook is – en jy dit buite kan doen,” sê Tomas. “Ons bly in ’n lieflike land met wonderlike weer, waarom sal jy in ’n kombuis wil kook? Gaan braai buite!”

Vrae-en-antwoorde aan The Braaight Brothers (TBB)

V: Waarom het julle ingeskryf?

TBB: Vir die avontuur van ’n leeftyd. Hoewel kort, het ons dit baie geniet!

V: Watter oomblik in die reeks staan uit?

TBB: Snorkel op die Sodwana-rif.

V: En die grappigste oomblik?

TBB: Enige oomblik saam met die Huiskombuis Boys.

V: Wat was die moeilikste uitdaging?

TBB: Om tuna in ’n groot see van ’n klein bootjie af te vang.

V: Op watter wyse het UBM jul lewe verander?

TBB: Dit het ons geleer niks is onmoontlik in die lewe – of met ’n braai – nie.

V: Julle het mos tydens die verfilming sommige van Suid-Afrika se mees ongeskonde omgewings besoek?

TBB: Die Hluhluwe-wildtuin is beslis ons gunsteling. Wildtuine is ’n wonderlike plek, waar ’n mens hierdie pragtige land kan ervaar en waardeer.

V: Watter span was jul grootste teenstander?

TBB: Die top-10. Hulle het ons almal geklop!

V: Watter vleis braai julle die graagste?

TBB: Spek.

V: Wat is jul span se leuse?

TBB: Hoekom vlieg as jy kan braai? Oftewel, Why fly when you can braai?