Die 41-jarige vrou, van Gütersloh in die Duitse deelstaat Noordryn-Wesfale, het met ’n manlike metgesel deur ’n koolraapveld in die noordoostelike Duitse staat Mecklenburg-Voorpommere fietsgery toe sy skielik pyn ervaar.

“Volgens die inligting wat ons dusver ontvang het, het ’n voorwerp haar teen die bors getref,” het ’n polisiewoordvoerder gesê.

Daar was ten tyde van die voorval ’n wildevarkjagtog aan die gang. Die vrou het net kneusplekke opgedoen. ’n Stuk koeël is in haar bra se metaaldraad gevind.

Die polisie het een van die jagters ondervra op ’n klag van nalatige liggaamlike besering. ’n Plaaslike koerant, die Schweriner Volkszeitung, het Vrydag oor die voorval berig en gesê dit het Sondag gebeur.

Die jagtog is stopgesit en daar is op die jagter se geweer beslag gelê.

’n Jong dooie wildevark is in die ondersoek na die voorval gevind.

Bron: News24