Boy George het Justin Bieber en Rihanna gewaarsku om nie soos hy sy lewe met dwelms te verspil nie.

Die voormalige sanger (52) het vroeër teen heroïen- en kokaïenverslawing geveg en selfs ’n draai in die tronk gemaak. Hy is nou ’n DJ.

George glo Justin (19) is waarskynlik met dwelms deurmekaar en dink die sanger moet “beter opgepas word” sodat hy nie te betrokke raak by die dwelmkultuur nie.

George het gesê: “Ek dink Justin Bieber is met dwelms deurmekaar. Ek kyk na Justin en dink, jy moet leer dis alles ’n mors van tyd. Dis so moeilik om alles in die openbare oog te leer, ek is verbaas dat jong bekendes nie beter opgepas word nie. Tog, as jy iemand beheer, gaan jy hulle waarskynlik na meer ontwrigtende gedrag dryf. As die yslike ****** wat ek was, weet ek hoe hardkoppig ek was, hoe moeilik dit vir enigiemand is om jou te stop, veral as jy bekend is en mense vir jou werk. As iemand teen jou as ’n bekende opstaan, wat gaan jy doen, hulle afdank? Seker.”

Terwyl hy dink daar is nog hoop vir Justin, het George uitgevaar teen Rihanna (25) nadat sy foto’s van haar waar sy dagga rook op sosiale netwerke geplaas het.

George het verduidelik: “Wanneer ’n kunstenaar so iets doen, weet jy hulle het regtig ’n probleem. Wanneer jy geen grense vir jouself het nie en jy bereid is om die wet op Twitter te oortree, is dit nogal skrikwekkend. Wat jy in jou vrye tyd doen en wat jy doen wat bewonderaars beïnvloed, is baie verskillend. Natuurlik, as jy ’n ****** is, sal mense jou as ’n ****** sien, maar ek dink nie jy moet dit vier nie.”

George, wat openlik gay is, het vroeër vanjaar gebots met die One Direction-sanger Liam Payne en hom beskryf as ’n “twit” wat verdien om gefoeter te word. Hy het geskerts hy sal “teleurgesteld” wees as die seunsgroep nie biseksueel blyk te wees nie.

Hy het ook aan die Daily Star gesê: “Die kanse is goed dat een lid van One Direction gay is. Ek dink almal is diep binne ’n bietjie biseksueel, so die kans bestaan dat hulle almal biseksueel is. Hulle is rocksterre, dus is dit wat jy kan verwag, is dit nie? Ek sou teleurgesteld gewees het as dit nie so is nie. Tatoes maak jou nie butch nie. Kyk na my.”