Toe hy ophou drink, het Boy George nie meer tatoes op sy kop gekry nie.

Die sanger van Do You Really Want to Hurt Me het tatoes van ’n paar godsdienstige simbole op sy kop. Hy wou sy hele kop laat tatoeëer, maar het dié plan laat vaar toe hy vyf jaar gelede ophou drank en dwelms gebruik.

Hy vertel hy het sy kop geskeer om die tatoes te laat aanbring. Later het hy gedink dis darem te seer om tatoes te kry.

“Toe ek ophou drink, wou ek nie meer tatoes op my kop kry nie. Die tatoe bo-op my kop het ek ná ’n aand in ’n klub in Denver, toe ek baie dronk was, laat doen. Ja, reg, jy kan my kop tatoeëer, kom ons verkas na jou tatoe-ateljee.

“Ek het ’n Dawidster, lotusblom en kruis op my kop. Dit dek omtrent al die godsdienste. Dis kwasi-godsdienstig . . . maar ek is ’n Boeddhis, ’n praktiserende Boeddhis.”

George, wie se regte naam George O’Dowd is, het onlangs sy eerste album die afgelope 18 jaar, This is What I Do, uitgereik. Hy sê dis danksy sy nuwe, sober leefstyl.

Hy het oor Brittanje se Radio 2 gesê: “Om sober te wees is ’n groot deel daarvan. Om nuwe bestuur te kry, my met ’n nuwe span mense te omring, om dinge reg te doen. Terwyl ek aan die album gewerk het en gaan toer het, was ek uit die oog. Deesdae wil mense dikwels by my ek doen dit. Wanneer ’n mens nie op TV is nie, aanvaar mense jy tuis en kyk ou video’s van jouself terwyl jy druiwe eet.”