Terwyl die meeste mense knus in die bed of aan die slaap was, het die sanger Bouwer Bosch en die aktrise Leandie du Randt gisteraand ’n musiekvideo verfilm. “Ons het vinnig gewerk, van tienuur tot so halfeen. Dit is lekker om laat in die aand te werk, want dan is die paaie lekker stil,” vertel hy.

Op ’n pad in Centurion het hulle onder die natuurlike aandlig en straatligte verfilm. “Dit gee ’n baie warm gevoel as dit kom by sulke opnames. Leandie was toevallig in Centurion en ek het binne ’n paar minute aan iets probeer dink wat ons kan skiet. Sy is ’n ongelooflike vriendin en is altyd reg om te help waar sy kan.”

Die liedjie, Vir Iemand, is een van ’n reeks enkelsnitte wat hy gaan uitreik en is nie deel van ’n album nie. “Ek en my vriende wil baie meer kortverhale skiet en die musiek help sodat ons verskonings het om te skiet. Ons die fokus op die storie, maar dit help dat mense die liedjie ook hoor.”

Die video gaan oor twee mense wat verlief is. Hulle ry deur die strate op pad na nêrens. “Jy kan sien hulle is verlief, maar iets gebeur in die kar wat die mood bederf en dan verander die video van daar af. So dit is maar baie lukraak en ek wou net oomblikke vasvang tussen twee mense – gelukkige en ongelukkige oomblikke.”

Bouwer het nie die lied vir iemand spesifiek geskryf nie. “ ’n Mens skryf maar om jouself te genees, so dele van die lied is maar hoe ’n mens soms voel, ander dele is maar net om ’n mooi storie te vertel.”

Die video sal volgende week aanlyn beskikbaar wees.

Kyk hier na ’n paar foto's wat tydens die verfilming geneem is:

[post-slider]

Loren Pienaar