As jy jou kind wil grootmaak sodat hy selfvertroue het, moet jy hom nie gedurig prys nie. Al glo ouers al geslagte lank anders, het nuwe navorsing nou getoon dit breek eintlik ’n kind se selfbeeld af as jy hom oor elke ou dingetjie prys.

As jy jou kind vir alledaagse prestasies loof, dra jy die onbedoelde boodskap oor dat sy waarde aan prestasie gekoppel is, waarsku die Nederlandse navorser Eddie Brummelman. “Ouers dink dalk hulle verhoed dat hul kinders ’n swak selfbeeld ontwikkel wanneer hulle hulle vir aangebore eienskappe loof,” sê hy, “maar eintlik kan dit die boodskap aan kinders oordra dat hulle net waardeer word solank hulle sukses behaal. As hulle daarna misluk, dink hulle maklik hulle is niks werd nie.”

Dit beteken nie dat jy jou kind nooit moet prys nie; jy moet hom wel prys, maar net vir die regte goed. Maak so as jy wil hê jou kind moet ’n gesonde selfbeeld ontwikkel:

Stadig met die lof

Kinders wat gedurig hoor hulle is slim en talentvol, word maklik ontmoedig wanneer hulle voor ’n moeilike taak te staan kom. Hierteenoor werk kinders wat nie die hele tyd geprys word nie, harder en hulle aanvaar makliker uitdagings. So lui navorsing deur die Universiteit van Utrecht waarvan die uitslag in die vaktydskrif Psychological Science gepubliseer is.

As jy jou kinders prys vir hul harde werk en deursettingsvermoë, leer hulle om nie hul eiewaarde aan sukses te meet nie, sê Eddie, die hoofnavorser. Sulke kinders beskou mislukking ook net as ’n tydelike terugslag en nie ’n persoonlike katastrofe nie.

“Gewoonlik is dit beter dat jy die gedrag prys pleks van die mens,” sê Brad Bushman, medeskrywer van die ondersoekverslag. “As jy ’n kind prys en hy misluk, kan dit verleentheid veroorsaak en onbedoeld die boodskap oordra dat hy ’n slegte mens is.”

Die Kaapse opvoedkundige sielkundige Anel Annandale stem saam. Haar raad is ook om die harde werk pleks van die prestasie te prys. “ ’n Ouer wat net ’n kind se prestasies prys, plaas druk op hom om ’n sekere standaard te bereik. As hy dit nie kan handhaaf nie, kan dit ’n afwaartse spiraal word wat tot selftwyfel en ’n swak selfbeeld lei.”

Moenie hulle oppiep nie

Moenie oorneem wanneer jy sien jou kind sukkel met ’n moeilike taak nie, waarsku Anel. Dit stuur die boodskap uit dat hy nie iets vir homself kan doen nie. “As ’n ouer elke keer oorneem wanneer sy kind sukkel, sal die kind glo hy kan nie ’n probleem op sy eie oplos nie. Dit keer ook dat die kind sy eie denk- en probleemoplossingsvaardighede ontwikkel.”

Ouers moet hul kinders laat voel hoe bevredigend dit is wanneer ’n mens ’n moeilike taak afhandel. Dit gee hulle vertroue in hul vermoëns en help dat hulle toekomstige uitdagings met geesdrif sal aanpak. Namate hul vaardighede ál beter word, sal hul selfvertroue ook ’n hupstoot kry.

Tog beteken dit nie jy moet jou kinders op hul eie laat aansukkel nie. Wanneer jou kind ’n moeilike projek het, help hom met leiding en nuttige wenke; moet dit net nie vir hom doen nie. Dit leer kinders ook dat alle probleme nie dadelik opgelos kan word nie.

Moenie ouer kinders te gou raad gee nie, sê dr. Cristine Scolari, ’n kliniese sielkundige van Bedfordview. “Laat hulle liewer nadink oor moontlike oplossings,” sê sy. “Wanneer jou kind kla sy skoolwerk is moeilik, kan jy hom byvoorbeeld vra hoe hy dit vir homself makliker kan maak.” Dit geld ook vir liggaamlike aktiwiteite.

Wanneer ’n kind op ’n klimraam speel, moet jy hom nie laat afklim omdat jy bang is hy val af nie. Nerfaf knieë en harde stampe is deel van grootword. ’n Kind wat self tot bo-op ’n klimraam klim, kry selfvertroue in sy liggaamlike vermoëns.

Skep geleenthede vir leer

Kinders kry selfvertroue wanneer hulle self dinge leer doen. “Leergeleenthede laat kinders voel hulle het iets bereik en dat hulle bevoeg is,” sê Megan Robinson, ’n opvoedkundige sielkundige van  Johannesburg. Dit kan iets eenvoudigs wees. Wanneer jou kind jou byvoorbeeld weer ’n toebroodjie vra, wys hom hoe hy dit self kan maak. Moenie ingryp nie, al mors hy.

“As jy inmeng wanneer jou kind iets nie volmaak doen nie, leer jy hom volmaaktheid is belangriker as die aanleer van ’n nuwe vaardigheid,” sê Megan.

Wanneer kinders toegelaat word om te mors, leer hulle ’n mens mag maar foute maak. Neem ook altyd jou kind se ouderdom en ontwikkelingsvlak in ag. Moenie verwag dat hy iets moet doen wat bo sy ontwikkelingsvlak is nie.

“Keuses help kinders onafhankliker voel en hul selfvertroue opbou,” sê dr. Andrew Lewis, ’n opvoedkundige en sportsielkundige van Stellenbosch en Somerset-Wes. “Maar jy kan nie verwag ’n driejarige moet ’n paar skoene in ’n groot klerewinkel kies nie; dit sal haar heeltemal oorweldig. Laat haar een van twee pare kies; sy sal bemagtig voel.”

Moedig stokperdjies of sport aan

Deelname aan sport of stokperdjies help kinders hul selfvertroue opbou, sê Megan. “So bewys hulle aan hulself en ander hulle het vaardighede en kan talle take baasraak,” meen sy. “ ’n Kunsklas kan selfvertroue aanmoedig, want daar skep die kind iets waarop hy trots kan wees. Deelname aan ’n spansport gee hom weer ’n gevoel van samehorigheid.”

Stokperdjies kan kinders ook help agterkom waarmee hulle goed is, meen Anel. “ ’n Kind ontdek dalk sy is ’n beter kunstenaar as atleet. Dit help kinders verstaan almal het sterk en swak punte.”

Prys so opbouend

  • Prys harde werk, sê dr. Andrew Lewis, ’n opvoedkundige en sportsielkundige van Stellenbosch en Somerset-Wes. As jou kind ’n goue medalje kry, prys die moeite wat hy gedoen het om dit te kon bereik. Verduidelik die medalje is belangrik, maar die lewensvaardighede wat hy so aangeleer het, is selfs belangriker.
  • Maak seker die lof pas by die moeite wat jou kind gedoen het, sê die Kaapse opvoedkundige sielkundige Anel Annandale. “As jy ’n kind vir iets kleins prys, kan dit hom ’n opgeblase selfbeeld laat ontwikkel. Dit kan verpletter word as die buitewêreld nie met dieselfde geesdrif reageer nie, of hom laat glo jy is nie opreg nie.”
  • Moenie jou kind prys vir iets wat hy in elk geval moet doen nie, soos om sy speelgoed weg te pak of al sy groente op te eet.
  • Dieselfde geld vir prestasies wat maklik behaal word. “As jou kind nog altyd goed gevaar het in wiskunde, is dit ’n bietjie oordrewe om hom te prys omdat hy sy wiskundehuiswerk doen,” sê Anel. “Prys hom liewer omdat hy ’n woord leer spel het waarmee hy nog altyd gesukkel het.”
  • Moenie kinders se prestasies vergelyk nie en loof altyd die moeite pleks van die resultaat. “Dit sal help verseker dat die prys wat een kind kry nie jou ander kinders se selfbeeld beïnvloed nie,” sê Anel. As jy byvoorbeeld ’n atletiese kind het wat onderpresteer, loof die harde werk wat hy met sy skoolwerk doen. Dieselfde geld vir sy akademies begaafde suster. Moet haar nie uitermate prys omdat sy volpunte in haar gunstelingvak behaal het nie. Loof haar liewer vir die moeite wat sy doen in die vak of aktiwiteit waarmee sy sukkel.

Selfvertroue maak saak

Selfvertroue is ’n boublok vir sukses, want hoe jy oor jouself voel, kan beinvloed hoe jy optree. Cristine Scolari, ’n kliniese sielkundige van Bedfordview, sê kinders met selfvertroue

  • word nie so maklik deur ander beinvloed nie;
  • het die innerlike hulpbronne waarmee ’n mens teleurstellings kan hanteer;
  • het ’n groter kans om vir hulself op te staan;
  • is gelukkig met wie hulle is;
  • het beter sosiale vaardighede;
  • is minder geneig tot depressie; en
  • is meer bewus van wat hul behoeftes is en hoe hulle dit kan vervul.

- Petro-Anne Vlok

Ekstra bronne: apa .org, psmag.com, ahaparenting.com