Jenny Wright van Milk Matters, ’n melkbank in Kaapstad, sê baie vroue verwag borsvoeding gaan maklik en natuurlik wees. “Dit is ’n skok wanneer dit nie altyd die geval is nie - dit is ’n vaardigheid wat ma’s moet aanleer.”

Jenny stel voor ma’s wat sukkel moet ’n laktasie-konsultant of goeie klinieksuster spreek. “Hulle behoort jou te help verseker dat jou baba ordentlik heg en goed en gereeld genoeg drink sodat jou melkvoorraad goed is, jy gemaklik kan voed en jou baba gewig aansit.”

As enigeen voorstel dat jy ophou borsvoed, raai Jenny aan jy spreek ’n laktasie-konsultant. “Daar is baie verkeerde inligting wat veroorsaak dat ma’s onnodig ophou borsvoed. Dikwels kan behoorlike borsvoedingsbestuur die probleem oplos.”

Sy voeg die volgende aanmoediging aan: “Ma’s en babas is ontwerp om te borsvoed; dit is dus raar dat ’n ma om biologiese redes werklik nie kan borsvoed nie, of dat ’n baba nie moedersmelk kan hanteer nie. Dit beteken met die regte hulp kan jy ook met sukses borsvoed en die geweldige bevrediging geniet van die kennis dat jy lewe en gesondheid aan jou baba gee sodat hulle die beste wegspringplek moontlik het.”

Jenny se topwenke:

  1. As jy net een ding gaan onthou, moet dit die volgende wees: As jou tepels seer is (al is dit nie eers gekraak nie), of dit vroeër of later is, is iets fout en moet jy dringend die hulp van ’n kenner inroep. Jy moet dit vir jou en jou baba doen. Jou tepels moenie seer wees nie!
  2. Tepelroom en laserbehandeling kan seer, gekraakte tepels help gesond maak, maar dit gaan nie die probleem oplos - die baba moet reg heg. Gaan soek dringend hulp.
  3. Dit is noodsaaklik dat jou baba reg heg. Daarsonder duik daar probleme op - seer tepels, ’n honger baba, swak gewigstoename en swak melktoevoer, om net ’n paar te noem.
  4. Eksklusiewe borsvoeding op aanvraag werk met ’n goeie hegting om volop melk en ’n gesonde, welgevoede baba te verseker.
  5. Hoe gouer jy om hulp vra, hoe gouer kan probleme gekry word en hoe gouer kan hulle opgelos of selfs voorkom word.
  6. Daar word nie van jou verwag dat jy net moet weet wat om te doen nie. Kry goeie ondersteuning en leiding van iemand wat ingelig is en ervaring het in borsvoedingsbestuur, soos ’n laktasie-konsultant; dit is baie belangrik.
  7. Kry indien enigsins moontlik kennershulp voor jy jou tot ’n bottel of formulemelk wend, of so gou moontlik as jy dit moet gebruik.
  8. Elke bietjie borsmelk wat jy jou baba kan gee, is waardevol, al kan jy nie by elke voeding borsvoed nie. Dit is waar vir sowel jong babas as ouer babas.

Ons ontmasker ’n paar algemene mites:

  1. Mite: Borsvoeding is seer en seer, gekraakte tepels is normaal. Nee! Borsvoeding moet nie pynlik wees nie. ’n Bietjie teerheid of ongemak in die eerste paar dae is dalk aanvaarbaar, maar enige pyn of skade aan die tepels is nie. Die baba wat nie reg heg nie, beskadig die tepel; dit moet dringend reggestel word. Swak hegting veroorsaak pyn vir die ma en die baba sukkel om genoeg melk te kry (swak gewigstoename, onnodig lang voedings, die baba wat knieserig is oor die bors of dit weier), asook swak melktoevoer. Dit kan reggestel word!
  2. Mite: Babas moet volgens ’n skedule gevoer word en om die tyd tussen voedings te rek, help hulle in ’n goeie roetine kom. Nee! Babas het klein magies en borsmelk verteer vinnig; hulle kan dus werklik in daardie eerste tyd elke uur of twee honger wees. Om in daardie tydperk gereeld te voer gaan jou melkproduksie aanhelp en gaan nie enige slegte gewoontes aanhelp nie.
  3. Mite: My borste is te groot/klein om doeltreffend te borsvoed. Nee! Die borsgrootte is irrelevant. Borste is fabrieke eerder as bergingshouers en  borsmelk word op ’n vraag-en-aanbod-stelsel vervaardig - hoe meer melk verwyder word, hoe meer word vervaardig.
  4. Mite: Ek gaan nie kan borsvoed nie omdat my ma nie kon nie; dit is ’n familie-eienskap. Nee! Dinge kan anders wees vir jou omdat ons soveel meer oor borsvoeding weet. Jou ma het waarskynlik nie goeie ondersteuning gehad nie, of mense het haar dinge vertel wat ons nou weet nie goed is vir borsvoeding nie.
  5. Borsvoeding beteken ek moet my dieet nou drasties inperk sodat my baba nie moet winde kry nie. Nee! Ma’s wat borsvoed moet ’n gesonde, gebalanseerde dieet volg en hoef nie sekere kosse te vermy nie. Al is dit moontlik, is dit ongewoon vir babas om geraak te wees deur wat hul ma eet. Dit is waarskynliker dat die hegting die probleem is eerder as die ma se dieet. Alle babas het winde - dit is normaal.
  6. Mite: My borsgevoede baba het water nodig wanneer dit warm is. Nee! ’n Baba wat eksklusief geborsvoed word, so lank hulle wil en soveel hulle wil, gaan al die nodige vloeistof uit die melk kry en het nie water nodig nie.
  7. As ek melk pomp, gaan ek presies weet hoeveel melk ek vervaardig. Nee! ’n Baba kry melk baie beter uit ’n bors as wat ons kan. Hulle kry tot twee tot drie keer meer melk uit ’n voeding as wat ons kan uitpomp, dalk selfs meer omdat party vroue moeiliker pomp as ander.

  • Milk Matters verskaf lewensreddende, gepasteuriseerde skenker-borsmelk aan vroeggebore babas in hospitale wanneer hul eie ma nie kan nie. Kontak hulle by info@milkmatters.org of besoek www.milkmatters.org vir nog inligting.

- Suzaan Hauman

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.