[caption id="attachment_98378" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Hier is die omstrede Facebook-inskrywing:

Borsvoedende ma’s . . . Dit het drie weke gelede met my gebeur. Vermy asseblief die lugredery Kulula as jy vir die vakansie reis.

Op 9 Julie het ek, my man en ons 18 maande oue dogter met die 10:20-vlug van Lanseria na Durban gevlieg. Op die vlug het ek ongrondwetlike diskriminasie, openbare aanval en vernedering ervaar omdat ek my kind borsvoed.

Die voorval het soos volg verloop. Ek het op ’n venstersitplek gesit en my dogter op my skoot vasgehou, my man was op die middelsitplek en ’n ander man langs die gangetjie. Die vlugkelnerin het ons ingelig oor vlieg met ’n baba. Sy het aanbeveel dat as my baba huil van die veranderinge van druk in haar binneoor tydens opstyging of landing, sal dit raadsaam wees om vir haar ’n bottel of fopspeen te gee. Ons het haar bedank en nie kommentaar gelewer nie.

Met opstyging het ek diskreet my lyf na die venster gedraai en my kind geborsvoed. Ander sittende passasiers kon hoegenaamd nie eens weet ek borsvoed nie, tensy hulle vooroor sou leun om oor my sowel as my man se lyf te kyk.

Lees ook: Alles wat jy moet weet oor borsvoeding

My baba het aan die slaap bewin raak toe die vlugkelnerin met haar drankie-en-happie-trollie verbykom. Sy het my ’n peuselhappie aangebied, wat ek van die hand gewys het. Sy het toe hard en neerhalend met ’n toon en kyk van afkeer gesê “wil jy jou nie net bedek nie”. Ek het geantwoord ek het die reg om te borsvoed en sy het haar stem verhef terwyl sy na al die omliggende passasiers kyk en vir my gesê: “Ja, maar jy moet toemaak uit respek vir en inagneming van jou medepassasiers”.

Op hierdie stadium was my baba wakker en het elke mens om ons na my, my baba en my bors gekyk. Ek was verneder (nie deur te borsvoed nie, laat ek dit duidelik maak, maar deur die manier waarop ek aangespreek is), geskok en woedend. Ek het gesê sy moet ophou, dat haar gedrag teen die lands- en lugdiensbeleid indruis en dat sy onbeskof is. Sy het aangehou op my skree dat ek walglik en minagtend is. Sy het dit oor die ander passasiers en voor my kind gedoen.

Ek het gesê ek wil nie verder met haar daaroor praat nie en sal met haar toesighouer praat. In daardie stadium het sy vooroor gebuig en op ’n sensitiewe en besorgde manier vir die man op die gangetjiesitplek gesê: “Meneer, as jy ongemaklik is, sal ons jou met graagte na ’n ander sitplek laat skuif.” Hy het dit van die hand gewys om te skuif.

Lees ook: Kan jy dit glo? Hierdie ma het vyf vreemdelinge haar baba laat borsvoed!

Die vlugtoesighouer het nie na ons sitplekke gekom om die situasie te ontlont, verskoning te vra of die vlugkelnerin berispe nie. Maar toe my man na die voorkant van die vliegtuig gaan om met hom te praat, was hy verskonend en het hy aangedui hy is geskok oor haar gedrag en dat ons ’n klag per e-pos aan Kulula moet stuur.

Ek is teleurgesteld dat hy haar nie self gedissiplineer het nie en dat ons tot vandag toe geen kontak van die lugredery gehad het nie. Ek het hierdie week ’n e-pos aan Kulula gestuur en ’n generiese verskoning van die klagteafdeling ontvang.

Ek is ’n trotse borsvoedende ma. My dogter het nog nooit ’n bottel of fopspeen gehad nie. Ek is ook ’n praktiserende mediese dokter met ’n diploma in kindergesondheid, en ervaring van werk in ’n borsmelkbank by ’n pediatriese eenheid wat deur die regering bestuur word.

Ek is ten volle bewus van al die wette en regeringsbeleid oor borsvoeding en my reg om my baba te borsvoed waar ek ook al is. Ek is bewus daarvan dat enige lugdiensbeleid of ’n individuele vlugkelnerin se skending van daardie reg onaanvaarbare diskriminasie is. Hierdie voorval en Kulula se hantering van die klag het my en my gesin geweldig ontstel en teleurgestel.

Dr. Sarah Kate Hooper

MBBCh (Wits) DCH (SA) ?#?iflykulula???? ?#?kulula????

Kulula sê . . .

“Ons vra opnuut verskoning vir dr. Hooper vir enige ongerief wat sy en haar gesin ervaar het,” sê Bridgette Ramuluvhana, bemarkingsbestuurder vir kulula.com.

“ ’n Senior lid van ons bestuurspan het reeds met dr. Hooper gepraat en direk verskoning gevra. Ons ondersoek die spesifieke voorval, en sodra die ondersoek voltooi is, sal ons ook regstellende optrede neem wat moontlik vereis word om seker te maak ons hou by die hoë standaarde van ons besigheid. Soos enige verantwoordelike, kliëntgesentreerde besigheid respekteer ons die regte van ma’s wat borsvoed, sowel as ander medepassassiers.”