Die bekende borskankergeen kan ’n roker se risiko vir longkanker laat verdubbel, volgens ’n onlangse studie. Die bevindings, wat in die joernaal Nature Genetics gepubliseer is, maak moontlike behandelingsopsies en die toetsing van diegene wat die risiko loop moontlik, sê die skrywers daarvan.

“Ons bevindings bied nog bewyse vir die oorgeërfde genetiese vatbaarheid vir longkanker,” skryf hulle. “Alle rokers loop ’n aansienlike gesondheidsrisiko, ongeag hul genetiese profiel, maar diegene met die genetiese gebrek se kanse lyk nog slegter,” het Paul Workman gesê, die adjunk-uitvoerende hoof van die Instituut vir Kankernavorsing, wat aan die studie deelgeneem het.

Daar is in ’n meta-analise van vier studies bevind sowat ’n kwart van rokers met ’n spesifieke gebrek in die BRCA2-geen sal in hul leeftyd longkanker ontwikkel, teenoor 13 persent van die algemene bevolking wat rook.

Die DNS van 11 348 mense met longkanker is vergelyk met dié van 15 861 mense wat nie die siekte het nie. “Die skakel tussen longkanker en gebrekkige BRCA2 – bekend daarvoor dat dit die risiko vir bors-, eierstok- en ander kankers laat toeneem – was veral sterk onder pasiënte met die algemeenste longkanker-subtipe, genaamd plaveisel-longkanker,” het die instituut in ’n verklaring gesê.

Ander gene is al tevore met die risiko vir longkanker verbind, maar die rol van BRCA2 was onbekend. Die gebrekkige variant, wat sowat twee persent van die bevolking dra, “is die sterkste genetiese skakel met longkanker wat tot dusver aangeteken is”, het die skrywers gesê.

Daar is in die navorsing ook ’n tweede, nuwe geen – CHEK2 – gevind, wat ’n kleiner rol speel in die risiko vir longkanker. “Die resultate dui daarop dat pasiënte met plaveisel-longkanker in die toekoms  kan baat by middels wat spesifiek ontwerp is om kankers met BRCA-mutasies doeltreffend te behandel,” het die instituut gesê.

“ ’n Groep middels, wat PARP-inhibeerders genoem word, het al sukses getoon in kliniese toetse met bors- en eierstok-kankerpasiënte met BRCA-mutasies, hoewel dit nog onbekend is of dit doeltreffend kan wees in die behandeling van longkanker.”

Al die mense wat aan die studie deelgeneem het, was van Europese afkoms, en dit is onduidelik of die bevindings op ander groepe van toepassing sal wees, het die skrywers gesê.

Die BRCA1- en BRCA2-geen (vir vatbaarheid vir borskanker) is die bekendste oorerflike oorsaak van borskanker.  Die Hollywood-aktrise Angelina Jolie het verlede jaar aangekondig sy het albei borste laat verwyder as voorkomingsmaatreël, hoewel daar nie kanker by haar gediagnoseer is nie. Sy het dit gedoen nadat daar in toetse bevind is dat sy ’n draer van die spesifieke BRCA-mutasie is.

Die hoofoorsaak van longkanker is rook, hoewel dit bekend is dat gene die risiko daarvoor laat toeneem. Volgens die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing is longkanker die algemeenste oorsaak van kankersterftes – dit was na raming die oorsaak van sowat een uit vyf, oftewel 1,59 miljoen sterftes, in 2012.  Dit is ook die algemeenste soort kanker met ’n geraamde 1,8 miljoen nuwe gevalle wat in 2012 aangeteken is.

“Ons weet die grootste maatreël om sterftes te verminder is om mense te oorreed om nie te rook nie, en ons nuwe bevindings stel dit duidelik dat dit selfs belangriker is vir mense met ’n onderliggende genetiese risiko,” sê die studieleier, Richard Houlston.

Kry hulp

Jy kan die Suid-Afrikaanse Kankervereniging op hul tolvrye nommer skakel by 0800 22 66 22 of klik hier  vir ‘n lys van al hul kontakbesonderhede.

- Mariette le Roux/Sapa

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.