Die Salt-aktrise het onlangs ’n dubbele mastektomie ondergaan nadat sy gehoor het sy is ’n draer van die BRCA1-kankergeen wat haar ’n 87 persent-kans op borskanker en ’n 50 persent-kans op eierstokkanker gegee het. Sy en haar familie rou nadat Debbie Martin (61) in die Palomar-hospitaal in Kalifornië dood is.

Die Oscar-wenner se oom Ron Martin het die hartseer nuus bevestig en die 37-jarige ster en haar broer, James Haven, vir hul ondersteuning bedank.

“Angelina was die hele week in kontak met ons en haar broer, James, het ons elke dag ondersteun. Hulle was albei baie lief vir Debbie en hoewel Angie nie nou kan kom nie, het sy haar liefde en ondersteuning gestuur en dit was baie gaaf van haar,” het hy aan E! News gesê.

“Ons het Angelina ’n paar keer gesien sedert borskanker by Debbie gediagnoseer is en ek en Debbie is baie trots op haar besluit om ’n dubbele mastektomie te ondergaan en op alles wat sy doen om te verhoed dat haar gesin moet deurmaak wat ons moes deurmaak.

“Angelina se pa, Jon Voight, was ook baie ondersteunend; hy het verlede Sondag vir Debbie kom kuier en die hele dag met haar deurgebring, met haar gesels en sy liefde met haar gedeel. Ek weet Debbie het dit baie geniet om hom te sien en met hom te gesels.”

Debbie word oorleef deur haar man, Ron, en hul twee seuns, Chris en Cory Martin.