“Ek hoop ná Oscar Pistorius se saak sal dieselfde met ander sake gebeur, sommige wat selfs afgrysliker as Oscar s’n is,” het hy aan die Kaapse Persklub gesê.

Hy glo as hofsake landwyd uitgesaai word, sal dit deursigtigheid verbeter en landdroste en regters vir hul gedrag aanspreeklik hou. Media-aansoeke om die verhoor by te woon, sal op ’n saak tot saak grondslag oorweeg moet word en hofsake waarby kinders betrokke is, moet hiervan uitgesluit word.

William sê dit kan selfs moontlik wees om verkragtingsake uit te saai as die slagoffers daartoe instem. Hy het gesê in ’n onlangse peiling met verkragtingslagoffers in Engeland het die meeste aangedui het hulle sou getuig terwyl die saak uitgesaai word. “Die beweegrede daarvoor is dat hulle wil hê meer slagoffers van misdaad, veral verkragting en aanranding, moet praat. Dit hoef nie in ’n sirkus te ontaard nie.”

William het gesê die uitsending van Oscar se saak kan in ’n sekere mate gekritiseer word. “Getuies behoort nie met mekaar te praat nie. Wat hier gebeur het, is dat elke getuie geweet het wat die vorige getuie gesê het.”

Tog glo hy getuies sou steeds inligting op sosiale media gekry het as die hofsaak nie uitgesaai is nie. Regter Thokozile Masipa sal Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria uitspraak oor die saak lewer.

Oscar word aangekla van moord nadat hy verlede jaar op Valentynsdag sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp, deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet het. Hy beweer het hy gedink sy is ’n inbreker.

William voorspel daar is ’n “beduiende risiko” dat Oscar skuldig bevind kan word aan die moord op ’n indringer, indien nie van die moord op Reeva nie.

Hy is gevra oor die kans op ’n suksesvolle appèlaansoek sou Oscar aan moord skuldig bevind word, en het gesê daar is twee moontlike gronde vir appèl – dié van Oscar wat kan beweer die staat het hom getreiter en dié van getuies wat nie geroep is nie omdat hulle nie wou hê hul getuienis moes uitgesaai word nie.

“Indien jou kliënt getreiter word, staan jy as prokureur op. Jy teken beswaar aan. Dis ook die regter se plig. Ek glo nie jy kan net terugsit nie,” sê William.

Dis ’n ander saak as die regter dit gedurig verwerp het. William sê die kwessie van getuies is nie ’n relevante punt nie omdat die uitspraak oor die uitsending van die saak voorsiening gemaak het vir getuies wat agter geslote deure wou getuig.