Carina Klopper (24) het haar man, Anton (25), se hand vasgehou terwyl hulle in Nelson Mandelaweg in dié stad gestap het nadat hulle hul ongebore dogtertjie op ’n sonar by die dokter gesien het.

Hulle was nog in ekstase omdat Anconé “perdfris en gesond” is, toe twee mans haar man aanval.

Anton het in daardie stadium sy beursie, selfoon, Carina se selfoon en nog ’n vrou, Gerda Steyn, se selfoon by hom gehad. Gerda, by wie die paartjie woon, het hulle ná die aanval dokter toe geneem. Die twee vroue wou om veiligheidsredes nie hul fone by hulle dra nie.

“Die mans het Anton begin rondpluk. Die een het sy arm om Anton se keel gehad. Ek was histeries, want ek het gedink hulle gaan my man verwurg,” vertel Carina.

“Ek het probeer om die een man se arm om Anton se keel los te kry. Gelukkig het Anton op die een of ander manier losgekom.”

Intussen het Gerda die straat ingehardloop en motoriste voorgekeer om hulle te help. ’n Jong man het stilgehou en by die bakleiery tussen Anton en die aanvallers betrokke geraak. Eers het die een aanvaller weggehardloop en nadat die ander een ’n goeie opstopper by die jong man gekry het, het hy ook die pad gevat.

Die twee aanvallers het niks gesteel nie.

“Ek was so bang vir my baba, maar ek moes veg vir my man,” sê Carina. “Ek is net verlig niemand van ons het iets oorgekom nie. Ek is oukei. Almal is oukei. Dit is waaroor ek die blyste is.”