bono

Die U2-rocker en sy groepmaats, The Edge, Adam Clayton en Larry Mullen, sal Donderdag by die Bambi-prysaand in Berlyn die prys vir die beste internasionale groep ontvang.

Bono is vroeër as die res van die groep Berlyn toe omdat hy ’n geleentheid moes bywoon. Hy het Woensdag saam met vier vriende in ’n Learjet 60 D-CGEO gereis, en niemand het besef die harde slag wat hulle gehoor het, was ’n deel van die vliegtuig wat grond toe tuimel nie.

“Hy was uiters gelukkig; die vliegtuig kon neerstort. Sowat ’n uur nadat hulle opgestyg het, het hulle ’n groot slag aan die agterkant van die vliegtuig gehoor.

“Hulle het geskrik, maar het voortgegaan en by die lughawe in Berlyn geland. Met die landing was hulle geskok toe hulle besef die kompartement aan die agterkant van die vliegtuig het heeltemal losgekom,” het iemand in die binnekring aan die Ierse Daily Mail gesê.

Blykbaar het die agterluik losgekom toe die vliegtuig sowat 2 400 km van die grond was. Die bagasie het onmiddellik uitgeval en tans is dit onbekend presies waar dit beland het.

“Hulle was op ’n hoogte waar enigiets kon gebeur; hulle voel almal baie gelukkig,” het die bron gesê.

Die koerant berig dat Duitse beamptes bevestig het die vliegtuig was met sy landing beskadig, en die probleme het opgeduik toe dit in die lug was.

Die Berlynse lughawe se mediahoof, Ralf Kunkel, het gesê dit is die polisie se werk om te bepaal wat presies gebeur het.

U2 se verteenwoordigers het nog nie kommentaar gelewer nie.

© Cover Media